1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
5182467

Besoekers aanlyn

Ons het 46 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Afrikaner

DANKIE, GENERAAL: OP DIE SPOOR VAN 'N OORLOGSPEURDER

dankie generaalMNR NICO MOOLMAN: "EK VOEL DIT IS BAIE BELANGRIK ONS MOENIE VERGEET WAT TOE GEBEUR HET NIE"

"U MAG MY GERUS KULTUURBEWAARDER VAN OU SUID AFRIKA NOEM WANT DIT IS MY SELFOPGELEGDE ROEPING 

Ons het  'n interessant vraaggesprek gehad met die bekende Suid Afrikaanse skrywer mnr. Nico Moolman wat in Junie sy nuuste boek met die titel: Dankie, Generaal: Op die spoor van 'n oorlogspeurder wat gaan verskyn. Uitgegee deur Jonathan Ball Uitgewers. Soos met sy vorige boek 'The Boer Whore' wat in 2011 in die rakke het gelê,  was daar baie belangstellendes wat die nuwe boek vinnig gekoop het. Ons sal mnr. Moolman vra stel oor albei die boeke.

"Meneer Moolman in die titel staan u is 'n kultuurbewaarder. Is dit omdat u voel die huidige 'regering' wil hierdie geskiedenis uitwis?"

 

"Nie soseer die regering nie, maar onbekwame en onkundige amptenary wat ons museums beheer en probeer bestuur".

 

“Wanneer het u die plan bedink om 'The Boer Whore' te gaan skryf, en is dit net in Engels of ook in Afrikaans verkrygbaar?"

 

"Nadat ek Susan Nell, die hoofkarakter se aanneem dogter Lucille in 'n hotel in Bangkok, Thailand toevallig ontmoet het. Die boek is al verwerk in Afrikaans as Kamphoer deur Francois Smith en vertaal deur Riet de Jong as Een Schuldig Leven. Dit word tans herskryf in Suid Afrika en die Franse vertaling is op pad. Intussen word Kamphoer ook as Campwhore vertaal deur Dominique Botha. Alles natuurlik onder kontrak met my".

DSCN0168

 

"Kan u die leser wat oor die inhoud vertel?"

 

"Ek laat graag die Kurator van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige-museum en Navorsing (NALN) Otto Liebenberg  aan die woord.

Hoeveel nuuts kan daar nog uit die geskiedenis van die Anglo Boereoorlog kom? Maar dan óók: Hoeveel  onthutsende verhale lê daar meer as ’n eeu later nog steeds in die ABO-vergetelheid oopgesluit?

Hierdie titel is natuurlik ’n skitterende – wel onthutsende – woordspeling op ‘The Boer War’, soos die Engelse hulle oorlog graag genoem het (so asof die Boere dit aangestig en veroorsaak het!). ’n Titel wat ’n mens ‘nie kan mis nie’, wat jy nie sal vergeet nie. Vindingryk, dog skokkend, ontsenuend, embarasserend.

Maar dan wel die titel van ’n vertelde stuk ware geskiedenis wat die woordspeling baie méér maak as ’n blote moedswillige hebbelikheid om die leser te ontstel. Of erger nog: ’n truuk om die boek te verkoop. Dis de ironie van die realiteit.

Só begin die leser se vrae na die grense tussen waarheid en verdigsel al met die titel self.

Dit is ’n epiese verhaal wat op oujaarsaand 1901 / nuwejaarsoggend 1902 in die konsentrasiekamp by Winburg begin, en die leser uiteindelik meevoer oor kontinente, tye en die groteskhede van oorloë in die loop van die daaropvolgende meer as ’n halfeeu. Daar kan maar net gevra word waarom die skrywer se navorsingspad hom moes geneem het tot in die Verre Ooste, en waarom sy erkenningslys mense insluit van die VSA tot in Thailand.

 

Die verhaal word nie as geskiedskrywing aangebied nie, en dit voldoen nié aan die eise van historiografiese vakliteratuur nie. Maar tog word daar van soveel historiese merkers gebruik gemaak, dat die leser voortdurend vra wat feit is en wat fiksie. Die toeval en sameloop van gebeure is eenvoudig te groot om verifieerbare waarheid te wees, voel jy; maar soveel te meer is dit té groot om fiksie te wees. (Goeie fiksie moet immers geloofwaardig wees vir die leser om daarmee te kan identifiseer.)

The Boer Whore is geen liefdesverhaal nie, dis geen spanningsverhaal nie, dis geen oorlewingsverhaal nie, dis geen biografie nie, dis geen historiese roman nie, dis geen koffietafelboek of kultuurhistoriese foto-album nie. En tog is dit iets van elk daarvan, vermeng met veel van die bekende, en nog meer van die onbekende.

Sommige lesers sê hulle kan die boek "nie neersit" nie. Ek het egter lank en deur talle sessies aan hierdie verhaal gelees. Nie omdat dit ’n “moeilike” boek is nie, of omdat dit vervelig is nie. Allermins. Maar omdat dit deels ’n ontstellende verhaal is, deels ’n verwonderende verhaal is; met langs die leespad soveel om ’n mens te laat stilstaan, herlees, oordink, bepeins. Soms die boek net neersit, eers net opstaan, eers net die leesaksie onderbreek om afstand te kry ...

Hiertoe dra die skrywer se besonderse visuele, kultuurhistoriese en 'volksfilosofiese' aanbieding van die leesteks by. Dit word bereik deur die invoeging van sowat 165 foto’s en afdrukke van historiese dokumente uit die kontekste waarbinne die verhaal hom afspeel, en deur goedgekose aanhalings uit die eie en oorgelewerde wyshede, plek-plek annotasies en toeligting van begrippe.

Francois Smith Een schuldig leven Deel2 page 001

The Boer Whore het bepaalde filmiese kwaliteite. Maar naas die uiteenlopende visuele landskappe van die natuur en geskiedenis, word veral ’n reis deur onbeskryfbare landskappe van trauma en belewing, van onverwagte medemenslikheid en ónmedemenslikheid opgeroep. Dit word ’n ode aan die stemloses en identiteitsloses van oorloë, die vertraptes, die misbruiktes, die gemarginaliseerdes, die gewone mense wat in die uitleef van ’n roemlose lewe helde en heldinne van ’n eie orde word.

Daar is ’n tyd vir alles. ’n Geslag of twee gelede sou ’n titel en verhaal soos hierdie nog taboe gewees het, omdat sekere van die vergrype van die Oorlog anderkant die piëteitsgrens van denke, woorde en uitsê gelê het. Vandag is die tyd ryp daarvoor, en het ’n mens waardering daarvoor dat ’n skrywer met die bewese verwysingsraamwerk en vaardighede van ’n Nico Moolman dié meesleurende verhaal vertel het.

Dis ’n welkome en verrykende uitbreiding van ons register van wéét oor die Anglo-Boereoorlog, en ook ’n pakkende verhaal van persoonlike oorwinning en van die sin wat uit wrede on-sin kan voortkom. Tot nog toe het ons nie geweet dat ’n erbarmlike insident in ’n troostelose Winburg in die tyd van die ABO byna ’n halfeeu later betekenis kon inhou vir die lewens van honderde, duisende, ja tienduisende vergetenes aan die ander kant van die aardbol nie.

Feit of fiksie? Feit: dat ’n dame wat nou in Suid-Amerika woon – wat dié verhaal eerstehands gehoor en ’n deel self beleef het – ’n verdere halfeeu later toevallig in ’n Thailandse hotel ’n gesprek aanknoop met ’n man uit die Vaaldriehoek in Suid-Afrika en hom van ’n onbekende insident oujaarsnag 1901 in Winburg se konsentrasiekamp vertel. Dat hy in sy tweede lewe ’n skrywer is, met ’n páár suksestitels agter sy naam; en ’n passie vir die verlede en alles wat daarmee saamgaan. En dat sy vrou se ouma ’n jong meisie in Winburg se konsentrasiekamp was ...

'n Boek wat gelees moet word".

"Is u jongste uitgawe 'Dankie Generaal' opgedra aan 'n bepaalde militêre bevelhebber uit die ABO?"

 

"Wel aan hulle wat vir my, my vryheid en waardes gegee het. Ek bring selfs hulde aan Generaal Methuen aan Engelse kant".

 

"Ons kan ons voorstel dat u uitgebreide ondersoeke gedoen het  om hierdie tyd te laat herleef. Kan u hier wat oor vertel?"

 

"Daar is tydperke uit my jeug wat die kern van die verhaal is. Bv. hoe ek in Swede op familie van Sweedse gestorwenes uit die Anglo-Boere Oorlog ontmoet het".

 

"Dit is bekend dat Emily Hobhouse as enigste Engelse baie hartseer was oor die ellendige lot van die Afrikanervroue en kinders en dat sy het probeer om verligting  te skink. Het hierdie moedige vrou ook 'n prominente plek in u boek gekry?

 

"Nie eintlik nie. Net vermelding en natuurlik die mooiste kleurfoto ooit van haar. 'n Foto uit my versameling wat deur Tinus le Roux ingekleur is en aanstons in 'n groot klassieke raam, 'n uitstalwerk by uitstek in die Museum van die Boere Republieke in Bloemfontein gaan wees"

 

"Is u van plan om in die toekoms nog meer boeke oor hierdie tyd te gaan skryf?"

 

"O ja veral om ondersteuning aan jong skrywers te voorsien van die unieke materiaal wat ek ontdek en skandeer".

 

"Ons wil u baie dankie sê vir die vraaggesprek. Ons stem met u saam dat ons nooit hierdie periode mag vergeet nie".

 

"Die genoeë was geheel en al aan my kant. Dit bly 'n verdraaide weergawe van die geskiedenis te wees, want daar is geen positiewe materiaal in Engels nie, so die geskiedenis vervaag soos die Engelse dit wou uitbeeld. Ek wil beklemtoon dat ek deel is van die seer wat oorlog bring en hoe om die mooi weer te vind". 

 

U kan die boek bestel by: http://www.jonathanball.co.za/delta-books/dankie-eneraal-op-die-spoor-van-n-oorlogspeurder-detail

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie