1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
4899537

Besoekers aanlyn

Ons het 61 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Afrikaner

LEIER VAN DIE AVP GEE RIGLYNE VIR AFRIKANERVEILIGHEID

Afrikaner se KragbronOp ons derde jaarkongres was daar 'n volledige uiteensetting van veiligheidsaspekte uiteengesit omdat die AVP waarskynlik die enigste politieke party in die land is wat besef het en nou meer as ooit besef dat die Afrikanervolk oorlog aangesê is deur die swart ras van Afrika onder die voorwendsel dat ons hulle land gesteel het!

 

Laat ons dus opnuut oor hierdie gemeenskaplikheid wat elke blanke in Suid Afrika raak, ja selfs die mees liberales, joiners, hensoppers en verraaiers, of hulle dit besef al dan nie, ons geledere sluit! Persoonlike voorbereiding, maar ook gemeenskaplike samewerking is onontbeerlik vir suksesvolle afweer van hierdie veragtelike ongeregtigheid wat grootliks deur ons eie mense se hulp en meewerking met ons vyande, moontlik gemaak is! 'n Leiersberaad word voorts beplan!

3E JAARKONGRES VAN DIE AVP 19 MEI 2012

WAAK EN BID VIR VEILIGHEID EN VRYHEID!(D Varkevisser)

Laat ons begin deur u daarop te wys dat as gelowiges ons nie op “Prinse” moet vertrou nie. Ons is in die eerste plek in hierdie benouende toestand as gevolg van ons afvalligheid van God en nie bloot nét omdat die de Klerks ons verraai het nie! Daarom moet ons begin deur elkeen ons persoonlike verhouding en die van ons gesinne en families met God te herstel, sodat ons geloof in Hom en ons vertroue op Hom ons leidsman sal wees. Want : PSALM 127:1 As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.

VERANTWOORDELIKHEID

1. Ons almal het uit die verloop van gebeure na 1994, die morele verantwoordelikheid om te kyk na die veiligheid van onsself en ons mense, die bedreigings te probeer identifiseer, en ‘n waardering te doen wat uitloop op verskillende opsies vir groter en beter veiligheid.

2 Met inagneming van die feit dat ons vermoor, geroof en bedreig word soos nog nooit van tevore in ons volk se geskiedenis nie, dit duidelik is dat die regime dit stilswyend goedkeur en waarskynlik daaraan aandadig is en daarby die besef dat enige veiligheidsituasie kan en sal verander, moet ons bestaande en potensiële elemente van beskerming in ag neem en, waar moontlik, betrek. Spesifieke gebiedsbeveiligingsinsette en ondervinding van die verlede is hier van die uiterste belang.

DOEL:

My primêre oogmerk met hierdie voordrag is om u sin vir veiligheid op te skerp! As ek met hierdie voordrag daarin kan slaag om u daarop bedag te maak dat u en u gesin se persoonlike veiligheid deurgaans bedreig word omdat ons in ʼn oorlog verkeer, sodat u paraatheid ʼn permanente ingesteldheid word, dan het ek geslaag in my doel.

BESTEK

3. Ondersoek en terugvoer moet bestaan uit die volgende:

  1. Bedreiging Algemeen.
  2. Terrein en roetes.
  3. Eie Magte,
  4. Bedreiging Buite.
  5. Bedreiging Tuis.
  6. Prioriteite.
  7. Beginsel.
  8. Gemeenskapsverharding
  9. Tuisverharding
  10. Persoonlike verharding
  11. Onderhoud
  12. Opsies.
  13. Aanbeveling.

VERKENNING

4. Daar is verskeie verkennings gedoen. Uit fisiese waarneming, inligting en terugvoer, het die    volgende geblyk:

a. In vergelyking met wat elders gebeur het, is Suid-Afrika se blanke bevolking voëlvry verklaar en toenemend blootgestel aan die Afrika styl van moord en doodslag, roof en diefstal en finale uitdrywing uit besit indien daar nie verharding in verset kom nie.

b. Die verhouding tussen swart en wit is, op die oog af, nog nie so sleg as wat dit kan wees nie. Die grootste probleem is die groeiende arrogansie van die huidig kunsmatig verrykte en bemagtigdes en die oordrewe vrees en kruipery van baie van die blanke liberales.

c. Die mees algemene bedreiging tot nou toe, wat min of meer almal raak, is diefstal en roof, in al sy vorme, gepaard met inbraak. Die gevalle van toenemende moord en verkragting wat met geweld gepaard gaan, het die oogmerk van indoktrinasie wat gemik is op intimidasie en uitdrywing van die blanke.

d. 'n Belangrike bevinding is dat die polisie nie gesien word as ʼn doeltreffende beskermingsinstansie nie. Tydens veiligheidsvergaderings is dit opmerklik dat die polisie nie eintlik genoem word as ʼn faktor ter beskerming nie.  

e. Daarenteen, word bure en die gemeenskap deur die oorgrote meerderheid gesien as die belangrikste bate ter beskerming. Plaaslike vermoëns om te reageer in ʼn noodgeval, wat tydens en na aanvalle van die verlede tot hulp gekom het, bestaan en word wel onderhou. Dis te danke aan lofwaardige individuele inisiatiewe, en dit vorm ʼn gesonde basis om op voort te bou.

f. Daar is veral een noodsaaklike, basiese element van beskerming wat reeds in baie gebiede en onder baie mense in goeie werking is, en dit is radio kommunikasie onderling tussen boere en gemeenskappe.

g. Die beskikbaarheid van wapens ter verdediging is onontbeerlik. Lisensies moet bekom word waar nodig en aansoeke aanhoudend opgevolg word.

h. Daar is egter ruimte vir verbetering in bestaande beveiligingsstelsels as sulks, veral as in ag geneem word dat die klem huidig, val op reaksie, dit wil sê, om te reageer nadat iets gebeur het, en nie soseer op voorkoming en afskrikking nie.

i. Ook is die vermoë om in ʼn noodgeval doeltreffende eerstehulp aan gewonde slagoffers op die toneel te kan verleen, heeltemal ontoereikend.

5. Sagte Teikens.

Daar is, om op te som, steeds baie om voor dankbaar te wees. Terselfdertyd is dit baie duidelik, uit alles wat mens sien en hoor, ons mense oor die algemeen eintlik SAGTE TEIKENS is. Ons is verskriklik kwesbaar, onbeskerm en onveilig, veral teenoor dit wat byna daagliks gebeur, en wat nog KAN gebeur. En daar bestaan, te-reg, 'n gevoel van onrustigheid oor die toekoms, en 'n uitgesproke behoefte aan beter beskerming. Veral met die verwagte, en vroeër of later onvermydelike, eskalering van geweld soos wat toestande verder sal agteruitgaan in die naloop van die veranderende politieke omstandighede. Soos die linkse politikus Andrew Feinstein dit so treffend stel: ‘After the party’….

BEDREIGING ALGEMEEN

6. Gewone Diefstal, Inbraak en Roof.

Diefstal en inbraak is huidig nog een van die grootste kopsere en die voorloper van ʼn aksie om die kwesbaarheid van die blanke te bepaal. Omdat burgers hier nie die normale beskerming van n regering geniet soos wat die verantwoordelikheid van ʼn regering in beskaafde lande is nie, as gevolg van ʼn agteruitgang in die doeltreffendheid van die polisie asook omstandighede buite die blanke burger se beheer, word eienaars gekonfronteer met diewe en rowers wat vat waarmee hulle kan wegkom omdat hulle dit as hulle reg beskou. Hierdie ‘gewone’ diewe en rowers raak al hoe meer aggressief en is altyd gewapen. Diefstal lei vroeër of later tot roof, roof tot geweld, en geweld tot verkragting, verminking en moord.

7. Gewapende Roof, Geweld, Moord. Gewapende roof, moord en doodslag deur goed toegeruste, sterk en ervare bendes is reeds 'n goed gevestigde deel van ons samelewing. Daar is gebiede waar dit nog nie so ooglopend is nie, maar selfs daar is dit beslis op die agenda. Veral vanaf elders. Die gemiddelde bende het die volgende tot hulle beskikking:

a.   Wapens: handwapens, AK’s en/of R4’s.

b.   Goeie kommunikasie: selfone, Afrika-tekens en somtyds polisie radios.

c.   Die vermoë om in te pas by, en te verdwyn tussen, elemente van die plaaslike bevolking. Ten minste tydelik.

d.   ʼn Sogenaamde vyfde kolonne binne sy teikengebied, wie willens of onwillens alle gewenste inligting en samewerking sal verskaf indien ‘gevra’, - suiwer omdat werkers en bediendes oor die algemeen nie beskerm is teen dié soort intimidasie wat bendes vryelik toepas nie. Onbeskermde werkers en bediendes se werklike gevoelens en lojaliteite is eintlik irrelevant in hierdie konteks.

e.   ʼn Pro-krimineel, anti-slagoffer klimaat.

8. TIPE BEDREIGING

Alhoewel selfs die kleinste diefstal ʼn misdaad is, en eienaars hulself daarteen moet beskerm, en die reg het daartoe, is potensiële slagoffers gewoonlik nie in staat om te bepaal hoe gevaarlik, hoe goed toegerus, hoe sterk en hoe ervare die oortreders is nie. Dus moet gekonsentreer word op die ergste, en die ergste is ʼn gewapende bende. Die bonus is dat ‘gewone misdaad’ ook beslis sal afneem indien ‘ernstige misdaad’ hokgeslaan word, omdat die twee tog aan mekaar gekoppel is. Dit is ook ongelukkig so dat die gewone aanvaller van vandag voel hy is nie reg aangetrek as hy nie ʼn AK of ten minste ʼn handwapen kan rondswaai nie. Omdat meeste normale mense nog die gewoonte het om hulle swaar-verdiende besittings te wil verdedig, al is dit net teen diefstal en al is hulle ongewapen en glad nie opgelei nie, is die gevolge gewoonlik dood of gewond. Dit het die gevolg dat diefstal lei tot moord.

9. GEMEENSKAPSGESINDHEID

Die inherente fisiese swakheid deur ongeërgdheid van ons gemeenskap, gekoppel aan die persepsie by die swartes van (relatiewe) rykdom van die blanke, lok diewe en rowers soos heuning ʼn swerm bye. En daar is duisende der duisende bye. Wat kan en sal seer steek, selfs doodsteek, as hulle by slagoffers uitkom. Terwyl meeste van hulle potensiële slagoffers, te besig is met ekonomiese oorlewing, of ʼn beter lewe, of wat ook al, om genoegsame aandag te gee aan hulle eie beskerming. Ten spyte van groeiende ontnugtering, maak ons mense in hulle onderbewussyn steeds staat op die staat en sy veiligheidsorgane waarvoor belasting betaal word, maar waarop die gewone burger op straat net eenvoudig nie meer kan en behoort te vertrou nie.

TERREIN

10. In en om stede en dorpe is daar ʼn digte bevolking, veral in die sogenaamde townships en plakkerskampe. Dis hier waar meeste terreur- en misdaad-bendes gewillige rekrute werf. Daar is egter 'n toenemende aantal bendes, veral die wat meer gesofistikeerd optree, wat in luukse sogenaamde veiligheidsdorpse wonings, wegkruipplekke en veilige hawens het. Hulle is dus oral, ook tussen ons!

EIE MAGTE

11. Watter mag het ons aan ons kant? Let wel: Aan ‘ons’ kant, nie ‘my’ kant nie. Dit word as ʼn gegewe aanvaar dat in die sogenaamde Nuwe Suid-Afrika, ek, as enkeling, nie ʼn kat se kans het teenoor die alomteenwoordige, goed bewapende bendes en hulle meelopers nie. Eiesinnigheid, voorkeur aan privaatheid, steun op geld, veiligheidsmure, alarms en ander beskermingsmaatreëls is luukshede wat nie net, nie meer bekostig kan word nie, maar het ook ʼn gerieflike invalspoort vir die vyand geword!

12. Die volgende is tot ʼn groot mate aan ons kant:

a.   Kennis van die gebied.

b.   Kennis van die gebied se mense.

c.   Samewerking vanaf die gebied se mense, tot ʼn groot mate, en die vrywillige beskikbaarstelling van hierdie mense se vermoëns.

d.   Tyd om voor te berei op meer gewelddadige en meer gevaarlike aanvalle en rooftogte. Hoe lank, weet mens nie. Maar die dag tot dag tyd wat daar is kan en moet nou benut word.

BONDGENOTE

13. Die polisie kan nie as ʼn bondgenoot beskou word nie, maar mag ook nie uit die oog verloor word nie omdat hulle in elk geval normaalweg vroeër of later in kennis gestel moet word. Die feit dat hulle tydens meeste besprekings nie eens genoem is as ʼn bate nie, is insiggewend, maar beteken nie dat hulle buite rekening gelaat kan word nie. Hulle is daar, is gewapen, het die staat agter hulle, en is veronderstel om die goeie mense te beskerm en die slegtes te vervolg. En hulle word betaal daarvoor. En soms, as hulle wil, probeer hulle tog hulle werk doen, veral as daar polisiebeamptes betrokke is wat uit die ou bedeling kom. En dit is tog so dat van hulle hulle lewens in gevaar stel in die uitvoering van hulle pligte. So in die praktyk is hulle “bondgenote” wat bestaan, wat veronderstel is om aan ons, die goeie mense, se kant te wees, en wat eintlik juis daarvoor deur die belastingbetaler betaal word.

NEUTRALES

14. Daar is inwoners van enige gebied, van alle kleure en geure, wat nie by ʼn beveiligingstelsel wil of kan inskakel nie. Dis orals so, en dis normaal. Hulle is uit die aard van die saak neutraal. Nie noodwendig vyandiggesind nie. En die feit dat hulle bestaan moenie toegelaat word om enige goeie saak te verongeluk nie. Die beste is om net eenvoudig rondom hulle te werk. Hopende dat van hulle naderhand sal inval.

BEDREIGING BUITE

15. Waar ons ook al is in die sogenaamde Nuwe SA, die wêreld en die paaie lê oop na alle kante toe, en daar is geen veiligheidsmagte wat doeltreffend beheer uitoefen oor bewegings buitenshuis en in en uit die gebied nie. Individuele rowers en bendes kan oor die algemeen in en uit en rondbeweeg net soos hulle lekkerkry. Hulle, ten minste die meer gevaarlike tipe, is deesdae net so toegerus met voertuie soos ons, indien nie beter nie.

Hulle kan verkenning doen, skakel met bronne binnekant, beplanning doen, voorberei, toeslaan en weer ‘verdwyn’, - sonder dat daar ʼn amptelike instansie is wat oor ʼn doeltreffende inligtingsnetwerk beskik, en doeltreffend op elkeen van die bedreigings kan en sal reageer en dit stuit. Die beste wat tans verwag kan word is dat die aanvallers na die roof/aanval by ʼn vinnige padblokkade gekeer word indien die alarm betyds uitgaan en daar betyds gereageer kan word.

16. Daar is ‘probleme’ of ‘vrot kolle’ binne enige gebied. M.a.w. plaaslike individue en/of groepe van individue wat mense dreig en soms ook dreigemente uitvoer, direk of indirek.

17. Dan is daar die grootste gevaar: Die goedgewapende, goed toegeruste bendes wat met teerpaaie langs inkom, allereers langs die hoofroetes en in die dorp bedrywig was, en in die toekoms sal wees. Hulle kan egter omtrent enige plek toeslaan, en dit word verwag dat dit toenemend sal gebeur met die oop grense en algemene agteruitgang, en gevolglike verdere toename in misdaad.  

18. Aanvallers en rowers slaan egter nie net toe op huise en plase nie, maar ook op mense wat per voertuig beweeg. D.m.v. voertuig-skakings en hinderlae.

19. En laastens moet ons net onthou die media, wat vandag so ʼn groot rol speel in die samelewing, was nog nooit ons vriend nie, en sal dit waarskynlik nooit wees nie. Kyk maar net na die berigte oor moorde. As jy of joune vermoor word, is dit misterieuse mannetjies van Mars wat dit gedoen het, sover dit die nuusberig aangaan. Maar as JY aangekla word, dan is dit die Bose Boer, en dis nie lekker om tussen ʼn skreeuende, jillende skare te moet ingaan hof toe nie. In die media sluip daar baie goggas rond wat sommer maklik die skaapdief sal daarstel as die arme man wat net deur jou land geloop het na sy bejaarde ouma toe, of na jou winkel om te gaan koekies koop vir haar.

Jy word dus nie net bedreig deur aanvaller, rower en dief nie, maar agter hulle staan ʼn oor die algemeen vyandig-gesinde media wat tradisioneel nie baie simpatie het met jou, die kastig histories bevoordeelde eienaar nie. En baie meer simpatie het met die arme histories minder bevoorregtes wat in ʼn BMW vir jou kom aanval het. En wat enige stok wat jy hulle sou gee om jou te slaan, vir seker sal gebruik om jou, en nie die aanvaller nie, op TV as die skuldige daar te stel.

BEDREIGING TUIS

20. Ons word in ons eie tuistes bedreig hoofsaaklik deur bendes. Tuistes wissel vanaf huise, met hulle besittings en mense, binne erwe in die dorp/stad, tot huise met hulle besittings en mense op plase. Hulle is, aan die einde van die dag, die kern van ons bestaan, letterlik ons laaste loopgraaf. Lank voordat enige boef egter nog fisies deur die draad of venster geklim het, het hy gewoonlik al meeste van die troefkaarte al in sy hand, wat sy ‘sukses’ amper waarborg, te wete:

a.   Die beskikbaarheid van betroubare en akkurate binne-inligting.

b.   Die gebrek aan afskerming teenoor sig van buite en fisiese verkennings.

c.   Die relatiewe gemak waarmee inbrekers en aanvallers die area en buurt kan binnekom en daar rondloop en alles uitkyk en beplan solank hy of sy wil.

d.   Die relatiewe gemak waarmee inbrekers en aanvallers die erf of plaas kan binnekom, veral as daar ʼn winkel of besigheid is.

e.   Die relatiewe gemak waarmee inbrekers en aanvallers die huis self kan binnekom, veral as die eienaar en sy mense nie altyd daar is nie.

f.    Die verspreiding en isolasie van baie van ons mense.

g.   Die algemene gebrek aan fiksheid en gebrek aan weerbaarheid onder ons mense.

h.   Die gebrek aan mag en amptelike rugsteun vir kragdadige optredes.

21. Verkenning. Aanvallers en rowers slaan nie net sommerso toe op ʼn mog-het-troffe basis nie. Hulle weet gewoonlik presies wat is wat, in en om hulle teikens, wat hulle in staat stel om vinnig en presies en dodelik doeltreffend toe te slaan. Hulle verkry hulle inligting deur kontakte van binne ons tuistes, en/of kennis opgedoen toe een of meer in en om ons tuistes gewerk het, en/of fisiese verkenning, - in daardie volgorde. M.a.w. meestal deur binne-inligting. Hulle kry dit reg nie noodwendig omdat ons personeel dislojaal is, maar omdat hulle gewoonlik die mag het om ons personeel te dreig en te intimideer, en die brutaliteit om dreigemente uit te voer. En ons dink nie daaraan nie, ons besef nie hoe kwesbaar ons is nie, omdat ons steeds lewe soos in die Ou Suid Afrika. Ons dink ons is nog baas van die land, en almal om ons is bang vir ons. Ons is lankal nie meer baas van die land nie. Ons bediendes en werkers is baie banger vir die wat daar buite rondsluip as vir ons. Sien Skets 1 vir ʼn skematiese voorstelling van bendes se moontlike verkennings, en hulle vermoë om werkers en bediendes te intimideer indien hulle by hulle kan uitkom.

22. Roetes In. Sien Skets 2 en 3 vir aanvallers se moontlike roetes tot binne ons tuistes. Soos gesien kan word, kan hulle van alle kante af, deur enige opening, tot binne die huis of buitegebou gaan. Mure en heinings word geklim, drade word gelig of geknip, tralies word uitgebuig of gesny, glas word gebreek, dak sinke en teëls word opgetel, en deure word oopgeforseer. Indien die geleentheid en tyd gegee word, is daar basies geen versperring wat opgewasse is teen die moderne, goed toegeruste, en veral goed ingeligte rower nie.

23. Die teiken. Rowers se teikens is gewoonlik geld, vuurwapens, voertuie en voorwerpe wat in geld omgesit kan word, soos elektroniese ware (selfone, sakrekenaars ens.), juwele, kameras, ‘GPS’e, ens. Mense word normaalweg net geteiken indien hulle in die pad is, of as getuies uitgeskakel moet word. Wraak-aanvallers se teiken is natuurlik die persoon op wie die wraak gerig is, plus sy of haar mense. Hier moet ons net onthou dat ‘wraak’ nie noodwendig deur ‘n werklike onreg veroorsaak word nie. Baie werkers is deur propaganda, beïnvloeding, eie magslus en gierigheid so opgewerk dat hulle vroeër of later enige verskoning sal aangryp om in sy of haar eie kop ʼn aanval teenoor die werkgewer, voorman of medewerker te regverdig.

PRIORITEITE

24. Voordat oorgegaan word na wat om te kan doen, is dit nodig om te kyk na ons voorkeurorde. Daar is ʼn groot verskil tussen die diefstal van mielies op die land, - en inbraak in ʼn huis. Daar is ʼn nog groter verskil tussen die verlies van ʼn rekenaar, - en die verlies van jou vrou se lewe. So dis belangrik om reg aan die begin ons voorkeurordes vas te pen. In Skets 4 word dit grafies uitgebeeld:

a.   Jy en Jou Familie. In die middel, allerbelangrikste van alles, is dit jy, jou vrou, jou kinders, en jou familie. Gewoonlik in een huis saam. Op ʼn groter erf, kleinhoewe of ʼn plaas kan daar meer as een huis betrokke wees.

b.   Jou Besittings en Jou Werkers. Rondom jou, is dit jou besittings. Alles wat jy besit, van jou kluis met al jou miljoene tot jou rekenaar, en jou voertuig, asook jou skape en beeste wanneer jy boer. En jou werkers en hulle gesinne, wat nou nie letterlik jou besittings is nie, maar wat vir jou werk, gewoonlik op jou grond bly, en JOU werkers is.

c.   Jou Plaaslike Gemeenskap. Dis nou jou bure en die wyer gemeenskap waarin jy beweeg, tot jou dorp en distrik.

25. Misdaad is misdaad, uit die aard van die saak. En New York se voorbeeld jare gelede het geïllustreer dat as jy die ‘klein’ dief en vandale vastrap, jy ook minder moorde gaan hê. Maar ons is nie New York nie. Ons lewe nou in ʼn staat waar jy maklik as die Bose Boer uitgebeeld en vervolg kan word deur die vyandige media en staat as jy byvoorbeeld na die klein dief wat mielies steel sou skiet.

26. Heel eerste, mees belangrik, is jou en jou mense se lewe. Punt. En in die tyd waarin ons leef, is hierdie lewens al hoe meer in gevaar. Elke dag word van ons mense letterlik wakker net om in ʼn AK of 9mm vas te kyk. Dis waarna ons heel eerste moet kyk, Dis jou en jou mense se lewens wat ons heel eerste beter moet beveilig teen die orgie van geweldsmisdaad wat al hoe meer uitkring, en volgens alle aanduidings, binnekort ook jóú persoonlike ondervinding gaan wees!

27. HOE kan dit gedoen word? Waar begin ons? Waarop moet ek meeste van my tyd en vermoëns bestee, as my tyd en vermoëns beperk is, soos wat dit met so baie van ons die geval is? Kyk weer na Skets 4: Jy en jou mense is in die middel. As die belangrikste. Maar dit wat rondom jou is, is TUSSEN jou en die aanvaller, wat heel buite staan, of in elk geval heel buite behoort te staan. Nou dit wat tussen julle staan, kan op twee maniere werk: Dit kan aanvallers en rowers AANTREK, - of dit kan aanvallers en rowers AFSKRIK en WEGHOU. Dit kan seker aanvaar word dat ons almal die laasgenoemde opsie kies. Hoe meer ons kan afskrik en weghou, hoe verder weg hou ons die aanvaller en rower, en hoe veiliger is ek en my mense. Veral as in gedagte gehou word dat niemand altyd in sy of haar huis sit nie. Jy beweeg rond, en wanneer jy nie fisies in jou eie huis sit nie, is jy baie meer afhanklik van hoe jou besittings en gemeenskap jou kan beskerm. So kom ons kyk daarna eerste.

BEGINSEL

28. Niks tussen jou en die aanvaller is onoorkomelik, laat ons dit net eers duidelik stel. Die geskiedenis van die afgelope twintig jaar het dit oor en oor bewys. Dit is, in beginsel, net hindernisse. Maar hoe meer hindernisse jy daarstel, hoe moeiliker maak jy dit vir die aanvaller om by jou uit te kom, en dus hoe veiliger is jy.

29. Om die beginsel te illustreer, hier is ʼn ware storie: Tydens die grensoorlog bo in Suidwes-Afrika, toe swaar gewapende terroriste ons mense bedreig het, was daar onder andere twee basisse: Die een was Nepara, met alles wat oop en toe maak, groot sandwalle rondom, beton bomskuilings, masjiengewere, mortiere, gepantserde voertuie, honderde gewapende soldate onder ʼn bataljonsbevelvoerder, alles reg om groot oorlog te maak. Ohikik, aan die ander kant, was ʼn klein buite-pos digby die grens, baie nader aan die vyand se hartland, geen walle, net tak-kraal hindernisse opgestapel rondom, primitiewe bomskuilings van pale, ou sink en sand-sakke, een klein ou mortiertjie, en een seksie van 10 man onder bevel van ʼn Onder-Korporaal, met langsaan ʼn kraal met so tien gesinne en ʼn paar gewapende Boesmans.

Wie was meer kwesbaar en minder veilig? Antwoord: Nepara, die groot bataljonsbasis met al sy soldate en wapens. Hy was heeltemal in ISOLASIE van die omliggende gebied en sy mense. Hulle het daar gesit, met alles wat oop en toe maak, agter hulle walle en bunkers, terwyl die terroriste rondom hulle gemaak het tussen die bevolking net wat hulle wil. Toe, een nag, het hulle toegeslaan met ʼn bombardement wat sewe troepe gewond, ʼn klomp uitrusting beskadig, en die basis bevelvoerder met eier op sy gesig gelaat het.

Wie was veiliger en is nooit eens aangeval nie? Antwoord: Ohikik. Hoekom? Omdat die vyand nie so maklik naby kon kom nie, geen steun van die plaaslike bevolking gehad het nie, en op ʼn afstand gehou is deur gereelde patrollies en oefeninge in die gebied. Die mense van Ohikik het, terwyl hulle wel hulle eie klein basis so goed as moontlik beskerm en veilig gemaak het, hulle hand op die gebied en sy mense gehad, en daar gehou. In plaas daarvan om in hulle basis te sit en te wag tot hulle aangeval word, het hulle uitgegaan en gewerk en geroer en naderhand die hele gebied en die mense rondom hulle ingetrek in een groot verdedigingstelsel wat die terroriste afgeskrik en weggehou het. M.a.w. hulle het soveel hindernisse tussen hulle en die aanvallers opgebou, dat dié nie eens naby gekom het nie en naderhand moed opgegee het.

GEMEENSKAPSVERHARDING

30. Die kern van gemeenskapsverharding is baie eenvoudig ʼn sterk en goed georganiseerde gemeenskap: Goeie buurskap en goeie verhoudinge onderling (ook met werkers), doeltreffende inligtingsnetwerk, bekwame teen-misdaad organisasie, alles saam in ʼn volgehoue staat van paraatheid, met die vermoë om vinnig, effektief en korrek op te tree waar ook al nodig. Met mense wat bereid is om elkeen sy of haar deel te doen. Binne ʼn buurtwag-plaaswag-boerevereniging konsep wat redelik goed gevestig is as raamwerk in antwoord op ʼn ooglopende behoefte ná die sluiting van die kommando’s. Hoe dit ook al in detail gekonstrukteer en gehandhaaf word, watter naam (indien enige) ook al gekies word, so ʼn soort formele of informele organisasie is die oorhoofse struktuur van enige effektiewe gemeenskapsverharding. Daar is verskeie aspekte daarvan wat as buite-hindernisse beskryf word, m.a.w. wat gedoen en in plek gesit kan word om aanvallers en rowers af te skrik en weg te hou van jou af.

31. Buite-Hindernisse. Dis die hindernisse tussen my tuiste en die verwagte aanvaller en rower.

a.   Jou Personeel. Die ou Romeine tweeduisend jare terug het hulle hoof van die huis ‘pater familias’ genoem. Hy was die hoof van nie net die gesin nie, maar van almal in die uitgebreide huishouding, insluitende werkers en slawe. Die werkers en slawe het die Pater Familias aanvaar as hulle baas, maar die baas het hulle ook op sy beurt aanvaar as sy verantwoordelikheid en het na hulle gekyk, en hulle beskerm. Hierdie basis van sterk gemeenskappe was die rede dat die ou Romeine omtrent geen misdaad gehad het nie, en so sterk was dat hulle uiteindelik die hele toe bekende wêreld kon verower en vir meer as 500 jaar oorheers het. En dit het begin by die Pater Familias met sy eie huishouding as die sterk klein bousteen van ʼn wêreldryk. Ons wil nie die wêreld verower nie, net die misdaad. Maar ons kan gerus by die ou Romeine leer: Klaas beskerm Baas, maar Baas beskerm ook vir Klaas. Eenvoudig. As Baas nie vir Klaas kan beskerm nie, dan moet hy nie verbaas wees as Klaas ook nie baie kan teëstribbel as die bende hom bykom en vra waar die Baas die sleutel bêre vir sy bakkie of kluis nie….  

b.   Jou Bure. Noue kontak, en gereelde interaksie, met jou bure. Ons kan nie op mekaar staat maak as ons mekaar nie eens ken nie. Moenie skaam wees nie, - skaam is by die agterdeur uit die oomblik toe die eerste aanvaller by die voordeur inbreek. Maar selfs in ʼn onderling bevriende gemeenskap is daar baie ruimte vir beter buurskap met die oog op meer doeltreffende veiligheid:

c.   Jou Buurmaat. Waar twee bure langs mekaar woon (soms familie of ouer en kind), behoort hulle mekaar so te sê op te pas. In ʼn noodgeval, kan die een vir die ander soms letterlik om hulp skreeu. Gaan die een weg, kyk die ander na sy huis, tuiste en belange. Dis die kleinste, maar belangrikste bousteen van goeie buurmanskap en ʼn doeltreffende soort buurtwag.

d.   Jou Groep. Sel, omgee-groep, vereniging, buurt-kring, - alles net name vir wat dieselfde beteken: ʼn Klein groep bure en eensgesinde mense wat naby mekaar woon, en soortgelyke belange en belangstellinge deel. Dit kan op enige basis (vriendskap, werk, godsdiens, sport, ens.) gegrond wees, - solank dit doen wat ons wil bereik: Mense naderbring en naby hou as ʼn groep vir beter onderlinge beskerming, wat mekaar kan bystaan in ʼn noodgeval.  

e.   Jou Pad. So baie sien ons huise met die allerbeste beskerming, van hoë mure en elektriese heinings tot alarms en kwaai honde, - maar net buitekant op die pad lê, sit, kyk, staar en loer dit rustig heeldag, totdat jy in of uitgaan, en dan kry jy die pistool teen die kop. Nie almal wat rondlê is seker rowers nie, maar almal wat rowers is lê rond, en as jy jou hand op die rondlêers hou, dan hou jy jou hand op die rowers tussen hulle ook. Die grootste fout wat mense maak is om in hulle huise weg te kruip. Gaan uit, saam met jou groep indien nodig, en vra of jy kan help, wie’s jy, wat is jou naam, neem foto’s, hou dop, en wees altyd voorberei op die ergste. Moenie dat ander jou straat beheer nie, - dis jou pad, en jy het die reg om te weet wat daar aangaan, en seker te maak dis nie ‘n broeiplek vir onheil nie.

f.    Jou Buurt- of Plaaswag. Watter naam mens ook al kies vir so ʼn organisasie, en hoe mens dit ook al besluit om te struktureer, ʼn tipe buurt- en/of plaaswag kan ʼn groot verskil maak. Dis oor en oor bewys, ook in jóú geval. Dit moet net in alle opsigte reg gedoen word, ʼn lae profiel hou, en maksimale steun vanuit die gemeenskap geniet. Die volgende is die kern elemente:

i. ʼn Radionetwerk wat sover moontlik almal met mekaar verbind en daagliks getoets word is normaalweg die eerste, maklike stap. Dit bestaan reeds oral en is suksesvol.

ii. Die uitvoer van patrollies (nie net voertuie nie).

iii. Die bou van ʼn bekwame reaksiemag of –magte.

iv. Die beplanning en skepping van stoppers om ontsnappingsroetes te sny.  

v. Die oprigting van ʼn beheer- of ops-sentrum vir goeie beheer, insameling en verwerking van inligting, permanente kommunikasie, en veilige bewaring van uitrusting en voorrade.

Dis die hoof-elemente van ʼn doeltreffende buurt- en plaaswag. Wat orals in die land in noue samewerking met alle bevolkingsdele gedoen word, en aan alle wetlike vereistes voldoen sonder om doeltreffendheid in te boet. ʼn Goeie reaksiemag het ʼn mediese vermoë, radio verbinding, gelisensieerde wapens om hulself te kan verdedig, en betroubare voertuie op bystand. Stoppers het die vermoë om ʼn ontsnaproete (pad) doeltreffend te versper. Groen ligte op patrollievoertuie, elders suksesvol gevestig as ʼn soort handelsmerk van gemeenskapsbeveiliging, kan met vrug ook hier ingevoer word.

Sien Skets 5 vir die skematiese voorstelling van ʼn plattelandse beveiligingsstelsel. Dit spreek vanself. Let op dat hier voorgestel word dat daar ook goeie verbindings tussen opstalle en statte is. En dat die beheerkamer en sentrale reaksiemag (RM) op ʼn goed gekose plek êrens in die gebied geleë is.

g.   Jou Polisie. Ons weet die polisie kom gewoonlik eers op die toneel as alles klaar verby is. Daar is in elk geval net een stasie in die hele distrik. Maar dit beteken nie dat mens die polisie moet ignoreer nie. Hulle is immers bondgenote, of is veronderstel om bondgenote te wees. En, amptelik, verantwoordelik vir die handhawing van wet en orde in die land, en dienaars van die gemeenskap (onthou hulle leuse ‘we serve the community’?). En dis tyd dat jy, as jy dit nog nie gedoen het nie, as lid van hierdie gemeenskap, na hulle toe gaan, kennis en kontak maak en kontak hou, uitvind wat doen hulle om jou gemeenskap te dien, en oor die algemeen probeer om van die dienste ter beskerming waaroor hulle beskik, en waarvoor jy as belastingbetaler betaal, gebruik te maak.

g.   Jou Sekuriteitsmaatskappye. In die sogenaamde Nuwe Suid-Afrika, maak baie meer gegoede (en soms minder gegoede) mense gebruik van sekuriteitsmaatskappye om hulself en hulle eiendom op te pas. Dis oor na elke inwoner om te besluit of hy dit kan bekostig om van sulke firmas gebruik te maak, maar dit word beslis aanbeveel dat jy ten minste uitvind wie wat waar in jou omgewing werk, en hoe sulke dienste moontlik kan inpas by enige gebiedsbeskermingaksies.

h. Jou Oues, Kinders en Swakkes. Aan die een kant kan oumense, kinders en    verswaktes as ʼn addisionele las beskou word. Aan die ander kant is hulle baiemaal juis die mense wat tyd het, en op die regte plek kan wees, om aanvallers en rowers betyds te sien inbeweeg en kennis daarvan te gee.

i.    Jou Eiendom. Hoewel dit sover moontlik gedoen moet word, is daar tog eiendom wat nie elke aand by jou huis gebêre kan word nie. Roerende of onroerende eiendom. Dit moet beskerm word teen diefstal maar terselfdertyd kan dit dien as hindernis vir ʼn aanvaller en ʼn waarskuwing vir jou. Soos ʼn stoor daar buite met ʼn alarmstelsel en/of kamera wat gekoppel is met jou huis. Of beeste of skape met elektroniese monitors wat jou waarsku as hulle op loop gaan. Of sommer net ʼn kamera of luister-apparaat wat op ʼn gepaste plek dophou of luister.

j.    Jou Eie Oormag. Dis veral die intimiderende getalle-oormag om ons, wat deesdae mens se hart in jou skoene laat sak. Sonder die staat en sy veiligheidsorgane se steun soos wat ons dit in die Ou Suid-Afrika gehad het, voel mens jy het eintlik nie ʼn kans nie. Weereens, is die antwoord maklik: Skep jou eie oormag! Trek laer! Die trekboere, ons voorvaders van twee eeue gelede, wat hulself in presies dieselfde situasie bevind het, het dit gedoen en oorleef. Dis net die wat nie wou laer trek nie, soos die Liebenbergs langs die Vaalrivier, wat net aan hulleself en die goeie weiding gedink het en op hulle eie gaan bly het, wat almal uitgemoor is. Laat dít vir ons ʼn les wees! Alleen is jy net ʼn aanval, aanranding of moord wat wag om te gebeur. En dit geld nie net ouer mense nie, maar ons almal. Wat noem jy Sipho met ʼn AK op Engels? – ‘SIR!’ - Maar as jy nie alleen is nie, en deel is van ʼn soort laer, of ʼn span, dan praat jy sommer Afrikaans met hom…..

k.   Jou Inisiatief. Baiemaal wag persoon A vir B om iets te doen, en B wag weer vir A. Ons “slim” politici van 1994 het gesorg dat ons nie meer ʼn staat en weermag het wat ons beskerm asook dwing om onsself te beskerm nie. Dis nou in ons eie hande. Niemand gaan ons beskerm behalwe onsself nie. En ‘ons’ begin by myself. As jy wag dat almal eers aan die gang kom, gaan jy baie lank wag, - totdat dit te laat is.

l.    Jou Vreemdeling. Plaas jouself in die skoene van die sg. leeglêer, die vreemdeling wat in die gebied rondloop vir kwaadgeld en kyk, verken en voorberei op sy volgende inbraak, diefstal of aanval. Skielik word hy bewus daarvan dat mense hom bekyk, volg, sy beskrywing deurgee, ʼn foto neem, en hom fisies nader en vra of hy ʼn probleem het. Die kanse is goed dat sy entoesiasme vir die buurt merkbaar sal afneem, en dat enige planne wat hy en moontlike kamerade gehad het so effe in die wiele gery is. Die gebied waar die vreemdeling vryelik kan rondbeweeg sonder om ooit gekonfronteer te word is die gebied waar misdaad maklik kan plaasvind. En andersom. ʼn Gebieds-ID stelsel, met foto’s van alle inwoners, insluitende werkers, is op ander plekke suksesvol geïmplementeer. Sogenaamde Mujibas, jonges wat gewerf word vir monitering van paaie en vreemdelinge, het elders indringers geïdentifiseer en afgeskrik.

m.  Jou Roetine. Ons hou almal van roetine en slaap. Die rower weet dit, en pas sy planne daarby aan. Om te weet wat sy teiken waar wanneer doen, is een van sy belangrikste voorvereistes vir sy sukses. Onthou jy is ʼn teiken. ʼn Vaste, onbuigsame roetine, veral wat beweging buite jou tuiste, op pad, en elders buite jou eie beskermende raamwerk aanbetref, kan letterlik dodelik wees. Maar diegene wat onvoorspelbaar voorkom, skrik die normale rower af, afgesien van die kans wat hy of sy het om af te kom op die indringer wanneer dié dit nie verwag nie. Jare gelede was daar ʼn eksentrieke oubaas in Suidwes, wat sy jong assistent elke nou en dan op onmoontlike tye laat rondstap het om, kastig die ystervark te soek en met skote te verwilder. Sy werklike motief was egter om die mense van die omtrek te laat weet: Oppas, die baas is altyd wakker, moenie iets probeer nie!  

n.   Jou Kontrei. Die gebied hou sekere moontlikhede in vir positiewe aktiwiteite en ontwikkelings wat inherent misdaad kan teëwerk. Vanaf eenvoudige byeenkomste van mense rondom sekere geleenthede en feeste, en stap- en sport-uitdagings op land en water, tot die heropening van die ou spoorlyn as toeriste aantreklikheid.

o.   Jou Radio. In die eeu van televisie, het die radio ietwat van sy glans verloor. Tog het ander streke gewys dat ʼn gewone FM streeksradio op sigself steeds ʼn volhoubare rol kan speel. Voeg hierby die potensiaal om dit te vermenigvuldig en dit kan die gemeenskap in vele opsigte baie sterker en meer weerbaar maak.

p.   Jou Reg. Soos hierbo genoem, kan jy as eienaar en kastig histories bevoordeelde nie baie simpatie verwag van die media in enige konfrontasie nie. Ook is die heersende staat en al sy organe nie meer ons s’n nie. So moenie hulle ʼn stok gee om jou mee te slaan nie. In enige konfrontasie, soos wat daar noodwendig sal ontstaan as jy jouself verdedig teen aanvallers, rowers of diewe, moet JY die slagoffer van misdaad wees teenoor die polisieman, die aanklaer, die landdros en die regter, nie die een wat jou kom besteel, beroof en aanval nie. Ons het die reg om onsself te beskerm en te verdedig. Ons moet net sorg dat dit in enige hof nie na iets anders lyk nie. Ook in die hof van die openbare mening.

q.   En laaste, maar nie die minste nie: Wees vrugbaar en vermenigvuldig! Ek bedoel dit half in ʼn grap, maar ook half ernstig. Dit lyk of die kriminele element se getalle ons oorstroom, en ons wetsgehoorsame burgers sterf uit. So dink daaraan, dit is immers ‘n Bybelse opdrag! Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde... en die volgende keer wat Jannie vra om met Sannie te trou, sê ja! en koop vir hulle ʼn bababed….

TUISVERHARDING

32. Afskerming. Soos vroeër gesien, is meeste tuistes vandag skrikwekkend kwesbaar, en lê letterlik wawyd oop vir aanvallers en rowers. En die mees skrikwekkende is die feit dat hulle alles van jou af weet en, figuurlik gesproke, reg tot binne-in jou kombuis en slaapkamer kan sien en rustig kan beplan hoe om jou by te kom as jou broek op jou knieë is. Om dit te voorkom, moet daar afgeskerm word. Teenoor die verkenner se sig van buite, asook teenoor sy vermoë om binne-inligting te verkry. Skets 6 gee ʼn voorstelling van waaroor afskerming gaan, te wete:

a.Afskerming teen Sig. Dit wissel vanaf eenvoudige, kos-niks maatreëls soos toetrek van gordyne in die aand en die sluit van hekke en goeie toegangsbeheer, tot groot werk soos die bou van mure rondom die huis. As jy nie jou sig na buite wil verloor nie, kan jy kameras bo-op sit. Jammer vir die ongerief vir besoekers en die onskuldiges wat dalk bietjie langer bietjie verder weg moet wag, maar in vandag se tye kan jy niemand vertrou wat nie deel is van jou laer nie. Jy moet aanvaar, vir alle praktiese doeleindes, dat enigiemand daar buite willens of onwillens deel van ʼn bende kan wees, en direk of indirek alles wat hy of sy kan sien sal oordra. So maak toe. Hou op ʼn afstand. Moenie laat inkom nie.

b.   Afskerming teen Binne-Inligting. Moeiliker is die kwessie van binne-inligting. Die maklikste manier om dit uit te skakel is natuurlik om geen bediendes en werkers in en om die huis te hê nie. Mense in Europa en Amerika kom daarsonder klaar, so wat is fout met ons? Meeste van ons wil egter bediendes hê, - baiemaal omdat ons jammer is vir hulle en nie hulle inkomste wil wegvat nie, - so jy moet nou maar die beste van ʼn slegte saak maak. Maar jy kan ten minste bediendes en werkers beperk tot ʼn minimum, die meer betroubares uitkies, en probeer sorg dat hulle nie blootgestel word aan intimidasie van buite nie. Dis byvoorbeeld beter dat ʼn bediende inwoon, as dat hy of sy elke aand weggaan na waar niemand weet watter invloede en mag hom of haar kan bykom nie. En vryf dit in dat as jy beroof of selfs gedood word, dan wie sal vir hom of haar werk gee? En onthou meeste moorde deur werkers is moorde deur tydelike werkers, die wat vinnig aangestel en weer laat gaan is. Bly liewer weg van die wat jy nie ken nie. En daar waar ʼn vreemde kontak kan maak, soos by die ingang, hou hom op ʼn afstand, letterlik, met interkom indien moontlik.

c.   Misleiding. Ons het ons vermoë om wette te maak om ons te beskerm verloor. Maar nie ons vermoë om ons kop te gebruik nie. Terwyl jy nie enige Jan Rap en sy maat kan keer om by jou huis verby te loop of ry of selfs by jou voordeur aan te klop nie, kan jy ʼn beeld skep wat, in plaas van om die rower aan te lok, hom sal afskrik en so jou die hele drama van ʼn aanval bespaar. Daar is so baie wat jy in hierdie opsig kan doen, te veel om op te noem. Van borde op die hek wat verklaar jy het slange, rooi liggies wat alarms aandui, ligte wat aan- en afskakel op ongereelde tye, toestelle wat lyk soos kameras, bandopnames wat speel van kwaai honde wat blaf, tot speelgoedwapens wat lyk soos die ware Jakob. Solank jy die potensiële verkenner daarbuite afskrik, en die idee gee hy gaan tweede kom as jy hy jou probeer beroof.

33. Huisverharding. Skets 7 probeer soveel maatreëls en hindernisse as moontlik voorstel wat jy in en om jou huis kan opstel om inbraak, roof en aanval so moeilik as moontlik te maak. Onthou, dit gee riglyne en idees, wat aangepas of selfs vervang kan word met iets beters of ander, dis nie ʼn definitiewe voorskrif nie. Dit sluit in, van buite na binne, die volgende:

a.   Muur en/of heining buite-om, so hoog en so onoorkomelik as moontlik.

b.   Beheerde ingang, met interkom, kamera as moontlik, afstandbeheerde oopmaak, en drukmatte.

c.   Hokke buite die veilige area vir vullis en aflewerings.

d.   Sensors en dalk nog drukmatte op plekke waar jy gewaarsku wil word as daar iemand rondsluip.

e.   Kameras.

f.    Alarms en sirene.

g.   Permanente kommunikasie (soos interkom) met mense wat in ander kamers of huise naby bly soos familie en werknemers.

h.   Honde buite EN binne. Buite kan honde te maklik vergiftig en uitgeskakel word. Ganse is ook baie wakker.

i.    Ligte na buite om te verlig en af te skrik (met of sonder tydmeganisme).

j.    Diefwerings op alle vensters en tralies voor deure.

k.   Binne die huis ʼn soort skuiling, veilige kamer of kamers, wat afgesper is teenoor die res van die huis. Die ideaal is as dit ook sommer jou slaapkamer(s) is.

l.    Radio verbinding met bure, buurtwag en sekuriteitsmaatskappy.

Let Wel: Uit die aard van die saak kos alles geld, en dit vat tyd. Maar as jy gaan kyk wat jy het, en ʼn lys opstel van wat nog nodig is, en dan stap vir stap dit implementeer, volgens jou vermoë en jou prioriteite, sal jou tuiste al hoe veiliger raak. Dalk sal jy vorentoe rede hê om dankbaar wees vir moeite en tyd gespandeer. Baie kan egter gedoen word baie goedkoper en selfs meer effektief, as ons net die beginsels van alle veiligheidstelsels verstaan en toepas. Die basiese beginsels.

34. Laertrek. Ons is steeds te bederf deur die Ou Suid-Afrika, waar ek dit kon bekostig om elkeen sover moontlik apart en op my eie en weg van my buurman te woon. Selfs families het uitmekaar gespat, en spat vandag nog uitmekaar, soos die een nie te naby aan die ander wil wees nie. Wel, soos reeds hierbo gesê, die bedreiging bestaan uit gewapende groepe en bendes, en alleen is elkeen net ʼn treurige statistiek wat wag om te gebeur. Ons kan so voortgaan, en mettertyd een vir een uitgehaal word, of ons kan begin laer trek, soos ons voorvaders dit gedoen het toe hulle ook te staan gekom het teen baie getalsterker aanvallers. Laer trek sonder ʼn ossewa. Laer trek stap vir stap, beginnende by jou eie mense. Laer trek eers met dit wat jy het en wat reeds bestaan, soos huise naby jou waarna die wat verder weg woon kan verskuif. Laer trek met familie wat saam veiliger is as elkeen op sy of haar eie. In dorpe, laer trek deur bure te laat saamstaan en woonbuurte af te sper. Op plase, laer trek met jou voormanne wat naby- en ingetrek word. Laer trek met werkers oor die algemeen wat jy nie wil doer ver los waar hulle deur ander geïntimideer kan word sonder dat jy dit agterkom nie. Of ten minste kommunikasie het met hulle. Laer trek met as laaste stap die vorming van ʼn soort moshav (‘n tipe nie-sosialistiese kibbutz), waar verskillende families se opstalle in een verdedigingskring saamgegroepeer is. So ʼn ontwikkeling vat tyd, maar is haalbaar, veral op die hoeke van plase waar twee of meer naby aan mekaar kan bou om so ʼn klein gemeenskapslaer te vorm, sien Skets 8. Die voordele hiervan is ooglopend. Dit gaan net tyd vat. En natuurlik geld en werk. En waarskynlik, ongelukkig, eers baie meer aanvalle en moorde voor ons die dringendheid en haalbaarheid daarvan insien.  

35. Sekuriteitsstelsels. Enige veiligheidstelsel in die wêreld wat werk bestaan uit net drie basiese komponente, soos uitgebeeld in Skets 9:

a.   Aktivering, m.a.w. dit wat die stelsel afsit.

b.   Transmissie, m.a.w. dit wat die ‘boodskap’ oordra, en

c.   Effek, m.a.w. dit wat jy wil hê moet gebeur as die stelsel afgesit word.

Deesdae raak ons so gewoond aan al die hoogs gesofistikeerde veiligheidstelsels dat ons uit die oog verloor dat die beginsels dieselfde bly, en dat iets lagwekkend eenvoudig soms net so goed werk as die duurste alarm. Jare gelede, tydens ʼn opleidingskursus in demolisie, is weermagstudente as ʼn finale toets aangesê om in twee groepe te verdeel, wat dan elkeen ʼn klaskamer so goed as moontlik moes beveilig teen die ander. Die manne het hulleself oortref met die mees gesofistikeerde toestelle, soos druk- en trekskakelaars, bewegings- en ligsensors, magneet-alarms, en alles wat oop en toe maak. Toe hulle klaar is, moes groep A groep B se kamer probeer indring sonder om die alarms af te sit, en groep B groep A s’n. Nadat hulle ure lank spandeer het, met spieëls en verklikkers en wat nog als, om die verskillende hoogs moderne en sensitiewe toestelle op te spoor en onskadelik te stel, besluit die een lot toe, nou is als veilig en kan hulle maar die deur oopstoot en ingaan. Toe val die stuk yster wat bo-op die deur gebalanseer het met ʼn helse geraas op die een ou se voet…  

‘Primitiewe’, relatief goedkoop stelsels kan soms reeds ʼn groot verskil maak. ʼn Indringer op pad in word afgesit deur geraas en lig, want hy weet dit maak die eienaar wakker en kan dalk tot ʼn onaangename reaksie lei. Honde, ganse, blikkies in die heining, en valstrikke oor die grond kan waarskuwing gee. En honde kan byt… Eenvoudige skakelaars en toestelle kan afsit, gewone toue of elektriese draad kan die boodskap oordra, en ʼn motor sirene gekoppel aan ʼn battery kan reeds die afskrik- en waarskuwingseffek gee wat jy soek. Daar is so baie maniere en apparate, en elke jaar is daar meer op die mark, en baie daarvan kan jy self aanmekaarsit op jou manier. Ook in jou voertuig. Wat die voordeel inhou dat net jy daarvan weet, en die indringer nie die stelsel ken soos wat hy so baie fabrieks- en firma-stelsels ken omdat sy maatjies daar werk nie. Om op te som: Hoogs gesofistikeerd kan soms te gesofistikeerd (en duur) wees. Heel eenvoudig kan aan die ander kant ook te eenvoudig wees. Die antwoord lê in die goue middeweg: Hou dit eenvoudig, maar kyk ook na reeds ontwikkelde en doeltreffende apparate en stelsels wat jou dalk baie tyd en moeite kan bespaar, massa-geproduseer is en dus nie te duur is nie. En as ons die basiese, heel eenvoudige beginsels waarop dit werk voorhou, kan ons beter oordeel, beter koop, en baie self doen en aanmekaarsit.

Behalwe vir die feit dat mens altyd beter daaraan toe is as jy verstaan hoe ʼn stelsel werk, kan jy ook baie dele daarvan self aanmekaarsit indien nodig of gewens. As ʼn algemene riglyn geld hier dat enigiets wat AC aan die hoofstroom van 220V gekoppel is, liewer deur ʼn gekwalifiseerde elektrisiën gedoen of ten minste gekontroleer moet word. Terwyl die kringlope van 12V wat op batterye werk redelik maklik deur die gemiddelde boer of dorpsjapie hanteer kan word, - dis nou te sê as hy nie twee linkerhande het nie.

36. Inisiasie. ʼn Alarm of reaksie kan op verskillende maniere geïnisieer en afgesit word:

a.   Deesdae gebruik baie mense allerhande soorte sensors, te veel om op te noem, wat indringers en beweging optel en dan die alarm afsit. Skets 10 stel ʼn sensor wat hitte optel voor, maar die beginsel is dieselfde vir beweging, soos in Skets 11 waar ʼn sensor op ʼn indringer reageer wat in ʼn vertrek inkom. Skets 12 en 13 is ʼn sensor wat enigiemand wat sy lig- of laser straal breek sal ‘voel’. Ons moet net onthou dat ʼn sensor gewoonlik nie ʼn verskil maak tussen ʼn mens en, byvoorbeeld, ʼn kat nie. Veral aan die begin gee enige sensor baie vals alarms, tot mens dit reg ingestel het wat hoogte ens. aanbetref.

b.   Meer basiese, eenvoudige inisiators is druk-skakelaars, wat afgesit word wanneer die indringer daarop trap. Drukmatte werk op hierdie beginsel, maar mens kan ook jou eie een maak met skakelaars wat vryelik in die mark beskikbaar is. Skets 14 stel die beginsel voor.

c.   Net so eenvoudig is trek-inisiators, wat indringers kan ‘vang’ met ʼn simpel nylon toutjie wat oor ʼn moontlike roete gespan is. Skets 15 gee ʼn voorstelling.

d.   ʼn Ietwat minder eenvoudige, maar uiters effektiewe inisiasie is die een wat werk met ʼn druk-ontlas skakelaar. Maklik wegsteekbaar onder ʼn voorwerp wat ʼn dief of rower beslis sal wil hê, sit dit die alarm af as die druk wat die voorwerp uitoefen ontlas word die oomblik wat die dief die voorwerp optel. Skets 16 gee ʼn voorstelling daarvan.

e.   Magneet inisiasies is algemeen bekend in alarms wat ingebou is om af te gaan as ʼn venster of deur oopmaak. Die oomblik wat die twee magnete van mekaar af weggetrek word, word ʼn kontak gebreek, en dit op sy beurt sit die alarm af.

f.    ʼn Woordjie oor valstrikke, sogenaamde ‘booby-traps’. Valstrikke wat indringers sommer doodskiet of opblaas is natuurlik onder die huidige regime onwettig en nie baie Christelik nie. Maar die beginsel kan op baie ander maniere met groot effek toegepas word, byvoorbeeld i.p.v. ʼn skoot gaan daar ʼn oorverdowende sirene of ligte aan. Alle soorte skakelaars kan hiervoor gebruik word.

g.   In die allerlaaste loopgraaf, letterlik, is jyself. Gewaarsku of te nie, dis jyself wat dan die alarm of reaksie moet kan aktiveer as dit nodig is. Terwyl jy letterlik kan, en moet, skreeu so hard as moontlik wanneer nodig, is dit maar oor die foon of radio wat jy om hulp roep. Amper elkeen het ʼn selfoon by hom. Radio’s is daar, veral op plase, maar kan en moet deur elkeen aangeskaf word wat nog nie een het nie omdat sel-verbinding nie altyd 100% gewaarborg kan word nie. In ʼn onverwagte noodgeval, - en enige aanval is maar normaalweg ʼn onverwagte noodgeval, - is daar nie altyd tyd en geleentheid om die foon of radio te gryp en ʼn oproep te maak nie. Dis hier waar die sogenaamde paniek-knoppie die verskil tussen lewe en dood kan beteken. Hulle is vryelik beskikbaar en kan by enige net aangepas word.

37. Transmissie. Daar is stelsels, veral by die wat mens koop, waar aktivering, transmissie en effek alles so saam ineen is, dat mens nie eens die transmissie gedeelte sien nie, so kort is dit. Soos die lig wat sy eie sensor ingebou het. In meeste stelsels egter is daar ʼn sekere afstand tussen aktivering en effek, veral as die afsetting buite plaasvind, maar die alarm en reaksie binnekant die huis bly.

a.   Tradisioneel word die aktiveerder verbind met die alarm of reaksie deur middel van ʼn elektriese draad, wat op positief en negatief gekoppel is. Die heel eenvoudigste elektriese transmissie is ‘oop’ wanneer dormant, m.a.w. geen stroom loop deur nie, - totdat die skakelaar die kringloop sluit, die stroom loop, en die alarm en effek daardeur afgesit word. Sien Skets 17. Die voordeel hiervan, dit is eenvoudig, en krag word net gebruik wanneer die kringloop voltooi word en die alarm afgaan. So mens kan met kleiner kragbronne/batterye wegkom.

b.   Die nadeel van bogenoemde is dat die stelsel uitgeskakel kan word deur die knip van die draad naby die skakelaar sonder dat jy dit sal agterkom. Of as die effek afhanklik is van ʼn kraglyn, sal jy verniet staatmaak op die alarm as daar ʼn kragonderbreking is. Die sogenaamde ‘dormant gesluite transmissie’ mode skakel hierdie probleem uit, hoewel dit natuurlik meer krag oor langer tydperke vereis. Skets 18 gee hiervan ʼn voorstelling. Daar is nou twee kringlope: Die een, wat deur die skakelaar loop, is gesluit en dus onder krag wanneer dormant. Hy is gekoppel aan ʼn tweede kringloop, wat die alarm en effek afsit. Hierdie tweede kringloop is oop. Wanneer die skakeling plaasvind, byvoorbeeld wanneer die dief die lok-voorwerp optel, gaan die eerste kringloop oop, wat op sy beurt die tweede kringloop sluit, wat dan die alarm en effek afsit. Nou sal die alarm afgaan nie net as die skakeling plaasvind nie, maar ook as die krag in die skakelaar se kringloop afgaan of sy draad geknip word. Dus koppel mens hom gewoonlik op die hoofkragtoevoer, terwyl die alarm-kringloop met ʼn battery werk. Laasgenoemde word natuurlik so kort as moontlik en veilig in die huis gehou.

c.   Transmissie kan egter ook ‘draadloos’ wees, veral as daar langer afstande betrokke is, soos wanneer ek kameras of ligte of sensors verder weg in store of werkswinkels of stalle wil installeer, of selfs in geboue op ander erwe. Die uitrusting is vryelik beskikbaar, dit verander niks aan die beginsels nie, dis gewoonlik net duurder.

38. Effek. Die effek van die meer eenvoudige stelsel is, gewoonlik, ʼn alarm of sirene wat afgaan, of ligte wat aangesit word. Ons noem dit die luide of direkte effek. Soos die geraas van die sirene waarmee mens die indringer net die skrik op die lyf wil ja. Daar is egter ook die sogenaamde stil effek, wanneer die skakeling se ‘boodskap’ stil deurgegee word agtertoe, of na ʼn reaksiemag, of net na jouself, of na beide. Die dief of rower moenie weet daarvan nie. Dis wanneer jy of die reaksiemag wil kan nader sluip en die boef betrek terwyl hy nog rustig besig is om te steel en roof. Sien Skets 19.

39. Geïntegreerde Tuisverharding. Skets 20 gee ʼn skematiese aanduiding van hoe die verharding van jou huis en eiendom verder uitgebou en uiteindelik geïntegreer kan word met jou bure, buurtwag, buurtpatrollies en die hele gemeenskap. Dis baie werk en moeite om dit daar te kry, maar die beginsel is eenvoudig: Jou middelpunt, jou bunker, is jou skuiling binne-in jou huis. Daar moet jy so veilig as moontlik wees. Daar moet jy kan uithou as die oormag aanvallers jou huis bestorm. Alles gaan soontoe, alles gaan van daar af uit. Daar ontvang jy terugvoer dmv alle transmissies vanaf jou skakeltuig soos kontak-punte, sensors, drukmeganismes, en wat ook al jy in en om die huis aangelê het om jou te waarsku as daar iemand inbreek. Van daar af praat jy oor die interkom met die ingang of jou buurmaat, of stuur jy die alarm uit as dit nodig is, of skakel jy met die buurt-/plaaswag, patrollie en reaksiemag. En besluit dan daarvolgens wat jy gaan doen, en hoe jy by die reaksie gaan inskakel. Meegaande skets 20 gee riglyne en aanduidings, dit is geensins ʼn bloudruk vir die volmaakte beveiliging nie. Daarvoor is daar te veel keuses, te veel verskillende produkte op die mark, te veel tegnologieë, te veel opinies. Elke tuiste en sy omstandighede verskil, en jy, die eienaar, besluit wat is vir jou die beste en mees haalbare.

40. Werksverharding. Op die dorp of op die plaas, gewerk moet daar gewerk word. In ʼn werkswinkel, of in ʼn fabriek, of in die skuur, of in die stalle, of in die kraal, ens. En na-ure moet die plek beveilig word. Die beginsels van goeie veiligheid bly dieselfde. Skets 21 gee ʼn idee van die meer algemene maatreëls en stelsels wat toegepas en aangepas kan word om jou en jou mense en jou eiendom in die werksplek beter te beskerm teen die soort aanvalle en rooftogte wat in die meer stedelike gebiede nou al algemeen voorkom. Weer, onthou dis net riglyne en aanduidings, omstandighede verskil van huis na huis en plaas na plaas, en jy, die eienaar, moet maak soos jou werf en jou mense en jou omstandighede en jou beursie voorskryf. Dis maar basies dieselfde as by jou tuiste, behalwe as dit ver weg op sy eie of baie groot is, dan moet daar verkieslik wagte en/of werkers wees wat daar bly. Die belangrikste beginsels geld steeds: Hou vreemdes fisies weg so ver as moontlik. Ontsê die aanvaller sy sig en inligting. Trek laer. Skrik af. En werk altyd op die ergste. Dan kan hulle jou nie so maklik uitvang nie.

PERSOONLIKE VERHARDING

41. Die dae van diensplig en ons eie weermag en polisie is verby. Ons is vandag basies op onsself aangewese vir beskerming en verdediging teen aanvallers en rowers. Terwyl die klem hier, tereg, op laer-trek en gemeenskapsverharding val, mag ons nie terugsit en ons persoonlike vermoëns laat slaplê of verroes nie. Wanneer die papaja skielik jou eie waaier tref, is dit eers jy self wat moet baklei. En die papaja kan jou tref nie net op jou eie werf nie. Jy is ʼn lekker vet teiken wanneer jy inry dorp toe, of elders heen gaan. Dan kan jou eie fiksheid, weerbaarheid en vermoë om vinnig en reg te dink en op te tree die verskil tussen lewe en dood, tussen huis toe ry of kaalgat terugloop, beteken. Daar is, gelukkig, nog baie ouer mense orals wat hulle ondervinding en bekwaamheid aan die jonger geslag kan oordra. En almal saam kan en moet opskerp en oefen en aanhou leer wat geleer kan word in die nimmer-eindigende stryd teen aanvallers, rowers en bendes. Wat nie net die nodige wapens, wapenhantering, gevegskuns en taktiek insluit nie, maar ook die regte houding en die regte soort optrede binne die riskante en baiemaal vyandig-gesinde omgewing waarin ons onsself deesdae bevind. Ons onderskei die volgende onderwerp-groepe wanneer ons praat van persoonlike opskerping en opleiding: Wapentuig, medies, sein, taktiek en algemene weerbaarheid.

42. Wapentuig. Soos vermeld, lyk dit volgens sekere terugvoer nie of die uitreiking van nuwe wapenlisensies ... ʼn groot probleem is nie. Dit beteken Jan Burger behoort steeds sy eie wapen te kan gebruik. Ammunisie is duurder, maar beskikbaar. Dis maklik om skietbane te vind of te maak op plase naby, en dis netso maklik om daar gereeld jou skietkuns op te skerp en te oefen. Ons vrouens en meisies mag nie vergeet word nie, hulle is netso in gevaar en hulle het net so ʼn reg om hulleself te verdedig. Dis ’n bietjie opoffering en tyd, maar die moeite werd, en dit kan selfs lekker wees met vindingrykheid en kompetisie. Hoe meer dit gedoen word, hoe meer leer elkeen nie net beter skiet nie, maar ook van beter maniere om die wapen te dra en te hou.

43. Medies. In enige streek en gemeenskap is daar ʼn meestal verborge mediese vermoë in die sin van verpleegsters en susters wat nou stil en rustig kinders grootmaak, gewese weermag ‘medics’ wat afgetree het, en dokters en verpleegsters wat by hospitale of privaat steeds mediese werk doen. Dan is daar klinieke en personeel wat noodhulpopleiding aanbied. Oor die algemeen is die huidige vermoë van reaksiemagte om doeltreffende eerste hulp aan te bied aan slagoffers wat geskiet is nie voldoende nie. Veral op plase kan iemand doodbloei voor die dokter van die dorp af daar kan uitkom of voor hy of sy die hospitaal haal. Mediese ordonnanse soos in die ou tyd, ten minste een per reaksiemag, is die antwoord. Hulle kan iemand wat gewond is stabiliseer en so sy lewe red. En ongelukslagoffers kan net so daarby baat.

44. Sein. Die radionetwerk op plase is redelik goed ontwikkel. Die ideaal behoort te wees dat almal, ook diegene op die dorp, oor radio’s beskik waarmee gereeld kontak gemaak, daagliks bevestig word alles is wel, en in ʼn noodgeval die reaksiemag ontplooi en stoppers in plek gesit word.

45. Taktiek. Die kennis en vaardighede van die kommando-tyd is nie verlore nie. Naweek-kampe op plase kan gereël word om te leer en in te oefen hoe om ʼn plaas wat aangeval is te benader, hoe om in te gaan, hoe om ʼn aanval af te weer, en hoe om roofbendes te keer en te arresteer.

46. Algemene Weerbaarheid. Dis nie toeval dat tydens die bosoorlog die fikse soldaat baiemaal van dodelik ernstige beserings verbasend vinnig herstel het, - terwyl die stoorman wat homself per ongeluk geskiet het maande lank sukkel om reg te kom. Die moderne, gejaagde lewe en die baie ryery het van ons onfikse, fisies swakker mense gemaak. Diegene van ons wat onsself kan forseer om meer te loop, aan sport deel te neem, ons Rambo spiere te oefen, ongewapende gevegskuns te leer, ensovoorts, sal beslis nie spyt wees oor die gesonder lewe en die beter oorlewingskanse wanneer dit die dag nodig word om onsself fisies te moet verdedig nie. Daar was al baie aanvalle elders in die Nuwe SA waar slagoffers en hulle gesinne se lewens letterlik van hulle vermoë afgehang het om met arms en bene en soms kaal hande te kan terugbaklei.

ONDERHOUD

47. Vra enige ervare, professionele persoon oor wat die belangrikste van enige stelsel is, en hy sal waarskynlik antwoord met: Goeie onderhoud. Mens kan die beste veiligheidsstelsel en uitrusting hê, en as dit nie gereeld ingeoefen en getoets word nie, sal dit mettertyd verval en jou in die steek laat as jy dit die dag werklik nodig het. Dis egter nie net jou wapen en ander uitrusting wat gereeld nagegaan en getoets moet word nie. Dis die hele stelsel, reaksievermoë, de lot, wat dit nodig het. Sommige mense dink ʼn toets of inoefening is ʼn mosie van wantroue in diegene wat getoets word. Ek sien dit anders: Dis ʼn geleentheid om te wys wat ek kan doen. En om myself skerp te hou en moontlike foute uit te skakel voor dit by my insink wanneer dit ernstig raak. Die Engelse sê ‘an apple a day keeps the doctor away’. Net so kan ons sê: ‘Maandeliks inoefen, my maat, hou die manne paraat’. Dis altyd wonderlik om te sien hoe enige stelsel, hoe sleg en gebreklik ook al aan die begin, al hoe beter word met elke inoefening. Solank elkeen altyd direk opgevolg word deur ʼn behoorlike nabetragting. Met die hoofde ‘goeie punte’, ‘slegte punte’, ‘area studies’.

Ervaring het geleer dat die beste manier om ʼn veiligheidstelsel in te oefen is om, sonder vooraf waarskuwing, dit te loods deur ʼn betroubare en geskikte persoon, wat tot aan die einde deurgaans beheer daarvan behou. Almal wat betrokke is moet in kennis gestel word dat dit net ʼn inoefening is, maar soos die werklikheid gehanteer moet word. Met een groot verskil: Geen kanse mag gevat word nie, geen risiko mag onnodig geneem word nie. Om die waarheid te sê kan die eerste inoefening heel stadig, stap vir stap, gedoen word om die meganika daarvan te implementeer, en genoeg tyd toe te laat om alles en almal wat nodig is in te bring en te toets. Die gesketsde situasie, m.a.w. wat gesê word gebeur het, bv. ʼn aanval op plaas X en Oom Y is gewond en bende Z is so en so op pad uit, moet so realisties en naby aan die verwagte tipe insident as moontlik wees. Mettertyd, soos die vaardighede toeneem, kan die tempo versnel word, sonder om ooit te vergeet dis eintlik net ʼn inoefening, m.a.w. dis nie die moeite werd om enigsins enige risiko te loop nie.

OPSIES

48. Daar is verskillende opsies wat gevolg kan word. Dis oor na die mense van die gebied om te besluit wat hulle wil en kan doen. Maar dit sal goed wees om sonder oogklappe na die opsies te kyk.

49. Opsie 1: Gaan aan net soos daar nog altyd aangegaan is. Van dag tot dag. Reageer so ʼn bietjie, so vir ʼn wyle, wanneer dinge warm raak en daar weer ʼn moord of twee gebeur wat mense laat regop sit. En gaan dan maar weer aan op die ou trant wanneer dinge weer bedaar.

50.Opsie 2: Druk die staat en die staatsorgane om hulle beveiligingswerk te doen waarvoor hulle betaal word. Betoog, hou vergaderings, loods petisies, praat met amptenare en politici, voer onderhoude met die media, stuur stories na die koerante, gaan hof toe oor ooglopende gebreke en nie-nakoming van hulle pligte in die polisie, justisie en die staat.

51. Opsie 3. Kry ʼn sekuriteitsmaatskappy of sekuriteitsmaatskappye om jou te beveilig. Dit kos geld, maar dan doen húlle die werk, en jy kan aangaan met jou lewe sonder al die drama en gesukkel met ʼn eie buurtwag en reaksiemag en vrou-alleen-by-die-huis-los en bibber van die koue in die nag om te probeer skelms te vang. Om van die gevaar nie eens te praat nie.

52. Opsie 4. Doen dit soos baie mense in die stede dit nou doen. Met die sogenaamde groen-lig-brigade. Kom bymekaar as ʼn soort buurtwag en los mekaar af om die omliggende strate en paaie te patrolleer in jou kar met ʼn groen lig wat flikker op jou dak. En as daar probleme is, roep die bure en probeer dit uitsorteer.

53. Opsie 5. Implementeer dit wat hierbo onder Gemeenskaps-, Tuis- en Persoonlike Verharding en Onderhoud genoem word, binne die bestaande losserige strukture, soos wat elkeen lus het en die nodigheid daarvan insien. Alles of dele daarvan.

54. Opsie 6. Implementeer dit wat hierbo onder Gemeenskaps-, Tuis- en Persoonlike Verharding en Onderhoud genoem word, soos wat doenlik en wenslik geag word, onder die leiding en gesag van ʼn algemeen aanvaarde veiligheidskomitee wat uit die bestaande strukture gekies is,.

55. Opsie 7. Implementeer dit wat hierbo onder Gemeenskaps-, Tuis- en Persoonlike Verharding en Onderhoud genoem word, soos wat doenlik en wenslik geag word, onder die leiding van ʼn veiligheidsoffisier, wie benoem en getaak is deur bogenoemde algemeen aanvaarde veiligheidskomitee. Die finale gesag en verantwoordelikheid berus steeds by die veiligheidskomitee, om die beginsel van gemeenskapsgesag en -verantwoordelikheid te handhaaf.

56. Opsie 8. Implementeer dit wat hierbo onder Gemeenskaps-, Tuis- en Persoonlike Verharding en Onderhoud genoem word, soos wat doenlik en wenslik geag word, onder die leiding van ʼn veiligheidsoffisier, wie benoem en getaak is deur bogenoemde algemeen aanvaarde veiligheidskomitee. Probeer sekuriteitsmaatskappye wat reeds in die gebied werk betrek om duplisering uit te skakel en te kyk wat so ʼn kommersiële onderneming hoe en waar kan en wil doen binne die algehele gebeurlikheidsplan. Die finale gesag en verantwoordelikheid berus steeds by die veiligheidskomitee, om die beginsel van gemeenskapsgesag en -verantwoordelikheid te handhaaf.

AANBEVELING

57.   Opsie 8. Indien Opsie 8 nie haalbaar of wenslik is nie, Opsie 7. Indien Opsie 7 nie haalbaar of wenslik is nie, Opsie 6. Indien Opsie 6 nie haalbaar of wenslik is nie, Opsie 5.

Ons gebed:

                                              

“…God van die leerskare, kom tog terug: aanskou uit die hemel en kyk, en gee ag op hierdie wingerdstok; en wees ʼn beskerming vir wat U regterhand geplant het, en oor die seun wat U vir Uself grootgemaak het. Hy is met vuur verbrand, hy is afgekap; vanweë die dreiging van u aangesig kom hulle om….”   Amen.-   Psalm 80, Vers 15-17.

Opgestel deur ‘n medewerker vir die AVP

Danie Varkevisser.

                                                 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie