Afrikaner

EK IS TOT ALLES IN STAAT . . . ...DEUR CHRISTUS WAT MY KRAG GEE Fil. 4:10-23

Bybel

Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.  (:13).

In n baie mens gerigte samelewing is dit maklik om die teks van ons oordenking verkeerd te vertolk.  As n mens hierdie woord nie uit n geestelike perspektief benader nie kan jy dalk irrasionele besluite neem en jou rieme lelik styfloop.  Dink gerus aan n persoon wat impulsief n nuwe sakeonderneming sal begin in die najaag van rykdom en homself met die woorde van Fil. 4:13 probeer motiveer dat hy suksesvol sal wees, want die Bybel sê dan so! 

Lees ons egter die drie verse uit Fil. 4 wat vers 13 voorafgaan, sien ons hoedat Paulus sy dankbaarheid teenoor die Filippense uitspreek vir hul gawe.

  Wat meer is, is dat ons n kort oorsig ontvang van Paulus se welstand en dat hy dit opsom in n getuienis dat God nog altyd vir hom voorsien het wat nodig was om sy werk in die bediening te kan doen.  Dit het met tye met hom baie voorspoedig gegaan en soms was sy lewensmiddele maar karig.  Maar hoe dit ook al daaruit gesien het dit was altyd voldoende!  In die tye wat hy dit swaar gehad het, het God hom kragtig ondersteun om ook die moeilike tye deur te maak.

In hierdie tye van swaarkry het Paulus geleer om met sy omstandighede vergenoeg te wees.  (:11).   En is hierdie nie n les wat ons elkeen maar kan leer nie?  Dink maar daaraan hoeveel van ons ons diensbaarheid aan die Here met sekere voorwaardes probeer uitstel.  Ek wil net eers finansieel beter af wees voordat ek vir die Here sal werk.  Tog word hierdie eindpunt van finansiële beterskap telkens verskuif.  Ek wil dalk net eers hierdie of daardie saak of doelwit bereik voordat ek met alle ywer vir die Here begin werk en nadat dit een mikpunt bereik is, word die volgende gestel.  

U stel dalk nie u diens in die koninkryk van die Here uit omdat u eie belange voorkeur geniet nie, maar wel omdat u nie uself as waardig genoeg ag om vir die Here te werk nie.  En hierin kan ons ook uit Paulus se lewensverhaal n baie kosbare les leer.  Hy wat eens n vervolger van die kerk van Christus was, het met meer ywer vir die Here begin werk nadat hy tot bekering gekom het as waarmee hy die gemeentes vervolg het!  Hy het nie vir een oomblik sy skuld in die vermoording van Christene en die vervolging van God se gemeentes ontken nie.  Maar net so min het hy die vergifnis en genade wat hy hierin ontvang het in twyfel getrek!  En Hy het vir my gesê:  My genade is vir jou genoeg want my krag word in swakheid volbring.  Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.  (2 Kor. 12:9).

Paulus was dan ook bereid om sy eie belang ondergeskik aan God se wil te plaas.  Dit is juis om hierdie rede dat Christus se krag deur hom kon werk en hy kon as instrument geweldig bruikbaar vir die Here wees.  Hoeveel Christene probeer die Here uit eie krag dien eerder as om min genoeg te wees sodat Hy eerder self deur ons kan werk?  Asof ons Sy werk beter uit onsself as deur Hom kan doen!  Ek is die wynstok, julle die lote.  Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.  (Joh. 15:5).  Ons leer dieselfde les uit Johannes die Doper se getuienis in die woorde van Joh. 3:30:  Hy moet meer word, maar ek minder.  M.a.w. Hy (Jesus) moet dit kom doen waartoe ek (Johannes die Doper) nie uit eie krag in staat is nie.  Johannes kon wel met water doop, maar Jesus Christus alleen kan met die Heilige Gees doop!

Die talle voorbeelde van geloofshelde soos Johannes die Doper, Paulus, Moses, Josua, Jefta, Gideon, Dawid en soveel ander is steeds vandag daar om my en u ook te besiel.  Mense wat hulself as werktuie tot beskikking van God gestel het. 

Dit is wanneer ons in Hom bly dat Hy self ons met krag uit die hoogte kan toerus om ons elkeen in staat te stel vir daardie doel waarvoor Hy ons as Sy skepsele verordineer het.  Dit is dan wanneer Hy ons in staat is om enigiets te vermag deur Christus wat ons krag gee! 

Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen. (:23).