1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7441648

Besoekers aanlyn

Ons het 8 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

HY KOM GOU EN SY LOON IS BY HOM

BybelOpen.22:6-21

“En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” (:12).

U dink nou seker dat u al van kindsbeen af gedurig hoor van mense wat verkondig dat die koms van Jesus naby is? Dit is nou al etlike jare later en steeds bewoon die mensekinders die aarde soos wat u dit as kind leer ken het, maar steeds was daar geen teken van ‘n Jesus op die wolke soos wat u dit in u geestesoog voorgestel het nie. Laasgenoemde standpunt is sekerlik menslik, maar ek hoop dat u ook daaraan gedink het dat menig van hierdie mense wat gepraat het van ‘n ontmoeting van die Here Jesus die huidige lewe ontval het? Daar is m.a.w. vir hierdie mense nie verder kans om dinge in hul lewens te verander, foute reg te stel en om vergifnis vir hul ongeregtigheid by God te soek nie. Die dag van afrekening het inderdaad vir hierdie mense aangebreek en dit sal ongetwyfeld ook nie by my en u verbygaan nie.

Daar is etlike meningsverskille oor die wederkoms van die Here Jesus Christus en ook dan oor die lewe hierna. Ek wil egter nie op hierdie stadium hierdie sake in diepte bespreek nie, maar stilstaan by die feit dat elke mens op een of ander stadium voor die Regterstoel van Christus sal moet verskyn. Hierdie is ‘n gedagte wat jou met opgewondenheid kan vul of met ‘n vreesaanjaende angs beklem. Dit hang natuurlik af daarvan of u alreeds u lewe hier op aarde aan Hom diensbaar gestel het en of u steeds verkies om vir die sonde diensbaar te wees. Daar is vir diegene wat hul lewens in diensbaarheid aan Hom toewy natuurlik die wonderlike verwagting van ryke beloning en ‘n lewe tot in ewigheid met Hom. Die allerverskriklike lewe van eensaamheid en verlorenheid is egter die deel van hulle wat hier benede ook die keuse maak om Hom nie as deel van hul lewens te aanvaar nie.

Die woorde van vers 11 van die gelese gedeelte is werklik stof tot nadenke. “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.” Dit lyk amper asof hierdie woorde in teenstelling is met die woorde van 1 Tim. 2:4:”wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” ‘n Ware kennis van die Woord sal egter die insig bring dat hierdie twee gedeeltes uit die Woord alles behalwe teenstrydig is. Dit is God se Wil dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom, maar redding sonder die Middelaar, Jesus Christus, is onmoontlik. Dit is dan ook presies wat ons leer uit hierdie gedeeltes. Alhoewel God die weg na saligheid vir die mense gebaan het deur ons Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus, is daar steeds diegene wat hierdie weg van saligheid probeer verwerp en op hul dwaalweë bly voortploeter en tog glo dat hul langs hul eie weë die saligheid kan raakloop.

Die woorde in Openbaring 22 is dan ook ‘n bevestiging dat God nie verleë is daaroor dat mense Hom moet dien nie. Hy het deur Sy groot barmhartigheid en genade ons redding vir ons bewerk en aan ons die voorreg gebied om Hom te dien. Ons moet ons egter vir geen oomblik laat mislei dat ons tog só uiters belangrik geraak het dat God oor ons diensbaarheid aan Hom verleë is nie.

Hy herinner ons egter dat daar vir elke mens regverdige loon vir sy arbeid is wanneer hy voor Christus sal verskyn. Dit is om hierdie rede dat Jesus vir ons duidelik leer om ons lewens hier op aarde nie te leef in nastrewing van belonings wat tydelik van aard is nie. Hy roep ons op tot hoër diens vir Sy koninkryk om aan Hom, wat ons eendag na Sy oordeel sal vergoed, diensbaar te wees. As ons Hom regtig liefhet, is ons veronderstel om op ‘n daaglikse basis ook met Sy werk in ons lewens besig te wees. “MOENIE vir julle skate bymekaarmaak op die aarde waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Matt. 6:19-21).

Die groot swaarkry en ellende onder ons volk op die oomblik verg groot opofferings van menig mense om dinge op verskillende plekke staande te hou. Ons weet dat die verval en ellende ‘n direkte gevolg is van ‘n volk wat God die rug gekeer het en gekies het om die kennis van die waarheid te verag om agter die wêreld aan te loop op soek na “vryheid en geluk”. Ons kan ook sien dat diegene wat die sterkste pogings aangewend het om hierdie afval te probeer keer en te probeer teenwerk ook vandag groot opofferings moet maak om te probeer herstel dit wat deur sonde en afvalligheid vernietig is. As ons as mense dit dan kan raaksien, sou die Alwentenheid dit nie merk en dienooreenkomstig in gedagte hou vir die dag van afrekening nie?

Ons word menig dae moedeloos, moeg en doodeevoudig tot só ‘n mate uitgemergel dat dit vir ons voel asof daar geen krag in ons meer oor is om te dien, om te help en om voort te gaan nie. Dit veroorsaak dat ons in ons menslikheid wonder waar God is wanneer ons so hard vir Hom arbei dat Hy nie eens ons ellende aansien nie. Wanneer u so moeg en afgemat voel, soek na verkwikking by die voete van Jesus wat weereens gereedstaan met die water van die lewe wat u siel sal laat herleef. “maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Joh. 4:14). Hy sal vir diegene wat Hom waarlik liefhet, altyd gereedstaan as hulp in beproewing en ellende.

Wanneer die voleinding van die huidige wêreld finaal sal aanbreek, is vir elke mensekind vir ewig verborge. “En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie’” (Hand. 1:7). Dit is egter duidelik dat die kaf en die koring van mekaar geskei word deur tye van beproewing wat oor die wêreld kom om ‘n onderskeid te maak tussen diegene wat God dien vir dit wat hulle daaruit kan baat en diegene wat Hom van harte liefhet en opreg wil dien.

As ons as mensekinders by vermoë was om op aarde in volmaaktheid te regeer, sou daar geen rede wees waarom Jesus moes terugkeer om alles hier benede te herskep in Sy Alwysheid nie. Dit beteken egter nie dat ons alles aan tyd en lotgeval moet oorlaat om tot niet te gaan nie. Ons moet daagliks as goeie en getroue diensknegte besig wees om ywerig te werk in Sy Koninkryk. Onthou, Hy kom gou, en wanneer Hy kom, sal Hy kom met Sy loon in Sy Hand om aan elkeen van ons ons loon te oorhandig!

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie