1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
4383905

Besoekers aanlyn

Ons het 61 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Afrikaner

GODSDIENS – OP WIE SE VOORWAARDES?

Bybel1 Samuel 15:1-35

“Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” (:23).

In ‘n samelewing waar die mens sentraal geplaas word, is hierdie boodskap dalk meer aktueel as wat ons besef. Dit is hartseer om te sien hoe effektief die Satan ‘n halwe waarheid aanwend om ‘n struikelblok te vorm. Die Satan sal byvoorbeeld die mens as die kroon van God se skepping en die liefde van God vir die mens uitbuit om die mens te verhef tot ‘n wese wat bo die Skepper vereer en geprys moet word. Dit word effektief gedoen deur aan die mens allerhande “regte” hier op aarde toe te dig waaraan almal rondom hom moet voldoen terwyl hyself geen verantwoordelikheid teenoor diegene rondom hom het nie. Die individualisme sal selfs vir die mens die reg toestaan om sy voorskrifte aan God voor te lê ter uitvoering, want ‘n God van liefde sal mos alles doen wat die mens Hom vra, of hoe? Laasgenoemde klink vir my na die vorming van wat normaalweg met afgryse afgemaak sal word as ‘n bedorwe brokkie.

Ons kry in die gelese gedeelte weer te doen met Saul, die eerste koning van Israel. Ons onthou hierdie man as ‘n man wat klein was in sy eie oë en wat homself net voor sy troonbestyging nie waardig geag het om die volk van God te regeer nie. Hierdie man ontgroei egter hierdie nederigheid van hom om die gestalte van ‘n verwaande heerser aan te neem wat dink dat hy nie God se raad hoef te volg nie, wel, dat hy God se opdragte selektief en na goeddunke kan uitvoer. So het Saul byvoorbeeld God se daargestelde gesag ondermyn deur self offers aan God te bring toe Samuel by geleentheid te lank gevat het om die offers te bring soos wat hy wat Saul is dit goedgedink het. God het hierna vir Saul die opdrag gegee om die hele Ámalek uit te roei en met die banvloek te tref. Saul laat nie gras onder sy voete groei nie en trek sommer dadelik op in die oorlog teen Ámalek. Hy besluit egter om God se opdrag weereens net gedeeltelik uit te voer. Hy versuim nie om die uiterlik vervalle en veragterlike goed met die banvloek te tref nie. Hy vergeet egter dat iets wat uiterlik mooi vertoon ook van binne veragterlik in God se oë mag wees. Hy besluit derhalwe om die koning van Ámalek se lewe te spaar en die aansienlike besittings as bangoed weg te voer met die “edel”-verskoning dat hy dit as offer aan God wil aanbied.

Groot was Saul se verbasing om te verneem dat sy ongehoorsaamheid aan God grens aan die veragtelikheid van die goddelose besitting wat hy met die banvloek moes tref. Samuel gee aan Saul te kenne dat God uiters teleurgesteld in hom is a.g.v. sy eiesinnigheid en wederstrewigheid. Die woorde wat soos ‘n pyl deur sy hart moes gaan en ook elke ware gelowiges baie diep moet raak en tot veel introspeksie moet bring, is natuurlik die woorde van vers 23: “Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. ...” As daar ‘n enkele vers uit die Woord van God is wat alle vorme van humanisme en individualisme verpletter, is dit sekerlik hierdie gedeelte.  

Saul word ontnugter dat geen van sy mooi vertoon en pogings om God “op sy manier” te dien vir God aanneemlik was nie. Daar is EEN manier om God te dien en dit is op Sy voorwaardes, volgens Sy reëls en volgens Sy gebooie vir die mens wat volmaak is. Wie God op sy eie manier wil dien en/of wil voorskryf, is nie besig met die ware diens aan God nie, maar met afgodery en beeldediens. Daar is hoeveel mense wat hulle eie “beeld” van God skep wat vir hulle aanneemlik is om te aanbid omdat dit menigmaal van hul min opoffering en onderdanigheid sal vra, maar die “vryheid” sal bied om na willekeur die reëls van hul godsdiens te buig om by hul veranderde omstandighede aan te pas.

Ek dink dat daar min gelowiges is wat nie al in hul lewens vir God probeer voorskryf het nie. Ons raak menigmaal so vasgevang in ons eie idee (eie beeld) van hoe God verondstel is om te werk in ons lewens dat ons vir Hom kwaad raak wanneer Hy dit nie doen nie. Dalk vergeet ons te maklik dat God ‘n Soewereine Wese is uit Wie, deur Wie en tot Wie alle dinge ontstaan het en dat Hy geen verduideliking aan enigiemand verskuldig is nie.

Ons samelewing skreeu ten hemele van mense wat voel asof hulle van geen waarde is nie. Mense sien nie die rede vir hul bestaan hier benede nie en ons wonder waarom ‘n (sogenaamde?) Godvresende volk soos die Afrikanervolk só daaruit sien? Is dit dalk omdat ons die lewende God verlaat het om ons “eie beeld” (afgodsbeeld) van Hom te probeer skep en nou verstaan ons nie dat ons waardeloos voel nie? “Hierdie goddelose volk wat weier om na my woorde te luister, wat wandel in die verharding van hulle hart en agter ander gode aan loop om hulle te dien en hul daarvoor neer te buig – hulle moet word soos hierdie god wat waardeloos is.” (Jer. 13:10).

Hoe verwag ons dat Sy lig in ons nie uitgedoof sal word wanneer ons Hom (die Heilige Gees) in ons lewens op die agtergrond skuif om ons eie doelwitte na te streef nie? Maar leef ons dan nie onder die genade nie? Ons is mos nie meer veronderstel om die wette van die Ou Testament van God na te kom nie, want Jesus het mos die hele wêreld van die Wet vrygekoop, sal sommige reken? Jesus het dit egter ook uitdruklik vir ons gestel dat Hy die Wet van God kom vervul het en nie tot niet kom maak het nie. Hy het aan die reg van God kom voldoen waarin ons as sondige mense nie kon voldoen nie en daardeur het Hy slegs diegene wat waarlik in Hom glo en Sy Verlossing met dankbaarheid aanneem, vrygekoop van die Wet van sonde. Dit is diegene wat Hom deur Sy Gees in hul harte koester en nooit die genade as vrybrief vir ‘n sondige en losbandige lewe sal beskou nie. Die genade, die dierbare en kosbare Soenbloed van ons Verlosser is vir ons van heeltemal te groot waarde! (Verw. na Rom. 6).

Dit is om laasgenoemde rede dat ons die erns moet besef om die “eie-ek” af te sterf en om eerder myself en my eie vleeslike en selfsugtige begeertes op die agtergrond te plaas. Wanneer ek dit doen, kan die Gees van God, eerder as ekself, die ereplek in my lewe inneem. Dit is vanaf hierdie boublok in my gees, wat dan deur Sy Gees gelei word, dat ek myself diensbaar tot Sy beskikking stel. Luister mooi na laasgenoemde sin – “Diensbaar tot Sy beskikking stel”. Is dit nie ware Godsdiens nie, diensbaar aan Hom sonder voorwaardes, behalwe Sy voorwaardes! “Laat die sonde dan in julle steflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.” (Rom. 6:12&13).

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie