Afrikaner

IS ONS HART VER VAN HOM?

BybelMatt. 15:1-20

“Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.” (:8).

In hierdie gedeelte spreek Christus Hom in geen onduidelike taal uit teen ‘n valse godsdienstigheid. Daar is mos deesdae geen probleem met multi-kulturele aanbidding en godsdiensvermenging nie. Elkeen bid tot sy eie god, maar ons kan dit mos maar sommer almal saam doen. Laasgenoemde redenasie skreeu ten hemele en ‘n volk wat hierdie siening huldig, staan op die rantjie van geestelike bankrotskap.

Waarom is mense bereid om so maklik kompromieë aan te gaan m.b.t. geloofsoortuigings? Is dit dalk weens die feit dat hulle nie opreg is in hul Godsdienbeoefening nie?

‘n Opregte gelowige is veronderstel om bankvas in sy oortuiging te wees. Die feit dat jy bereid is om stoflike dinge op te offer ter wille van jou geloofsoortuigings is tog die stempel van opregtheid oor jou geloofslewe. Dit bevestig dat jy só sterk glo dat jy bereid is om skade te ly t.w.v. jou geloofsoortuigings.

 

Waarom word mense so maklik rondgeslinger deur valse leringe en dwaalleraars? Is dit dalk omdat hulle nie ‘n grondige kennis van die Woord het nie en geen persoonlike verhouding met Jesus Christus nie? Wanneer jou geloofslewe ‘n blote tradisie is, is jy op ‘n glibberige dwaalweg en jou struikeling is feitlik gewaarborg. Ongeag die kerkverband waaraan jy verbonde is, is godsdienstigheid nie welbehaaglik voor God nie. Tevergeefs eer jy God uit gewoonte wanneer jou hart nie met Hom is nie!

Met die sondeval is die verhouding tussen God-en-mens intense skade berokken. Ons sondige menslike natuur ontbreek ons aan die heerlikheid van God en deur die Verlossing van Jesus Christus is daar vir ons versoening. Dit is egter geen tradisie wat gevolg moet word om met God te versoen nie, maar ‘n lewende verhouding met ons Middelaar. Die besef dat Jesus aan God se reg voldoen het deur die skuld van ons sondes op Hom te neem en die volle losprys daarvan te betaal moet ons beweeg tot ‘n oorgawe van ons hart aan Hom. Dit beteken dat Hy my Leidsman in die lewe sal wees – die Een wat vir my die weg na God se ewige heerlikheid sal aanwys. ‘n Gelowige wat tot bekering kom en dink dat die geloofsverantwoordelikheid daarna afgehandel is se redenasie sal op die volgende neerkom: Jesus het vir my die weg na saligheid aangewys, maar ek sal self by die eindbestemming kan uitkom. Sou Hy die Heilige Gees na ons gestuur het om ons enduit op ons lewensweg te lei indien ons Hom nie nodig sou hê na bekering nie?

Wanneer ek in ‘n lewende verhouding met Hom leef, sal ek deurgaans met Hom kommunikeer deur gebed en gereelde Bybelstudie. Ek sal ‘n strewe daarna hê om my lewe te ondersoek en my swakhede in gebed aan Hom te bely. Ek sal nie sondige gedagtes en begeertes in my hart koester nie, maar dit eerder bestry en sodoende deur Sy hulp en leiding daarvan verlos word. ‘n Lewende verhouding met my Skepper sal daartoe lei dat ek nie verwyderd van Hom wil leef nie en wanneer daar skeiding tussen my en Hom ontstaan, sal ek ondersoek wat die oorsaak vir hierdie verwydering is en dit uit my lewe verwyder en na versoening met Hom hunker.

Ek wonder vandag waar die Afrikaner se hart oor die breë lê? As dit by Hom is, waarom lyk ons eens trotse en pragtige land na ‘n wildernis? As ons volk se hart by Hom is, waarom is Hy nie meer welkom in kerke en huisgesinne nie en waarom word Hy nie meer in gehoorsaamheid geëer nie? As ons volk se hart by Hom is, waarom is ons daagliks besig om geld, sport en wêreldse plesier na te jaag terwyl Sy huis hier ter plaatse aan skerwe lê? As ons hart by Hom is, waarom is ons hart nie verskeur wanneer Sy koninkryk hier benede skerp aangeval word nie? As ons hart by Hom is, waarom laat ons toe dat Sy Naam in ons huise oor die televisie belaster word en waarom is daar meer tyd vir die televisieprogramme in ons huise as wat daar vir Hom is? As ons hart by Hom is, waarom is daar nie meer plek vir die viering van ‘n dag soos Hemelvaart tot Sy eer nie?

As ons hart waarlik by Hom is, sal ons dade daarvan moet getuig. Dit sal in ons lewens sigbaar moet wees dat ons eie gedagtes en slegte begeertes vir Hom plek gemaak het. As ons eie gedagtes nie vir Hom plek maak nie sal ons Hom ook tevergeef eer deur die leringe van mense vrugteloos na te jaag.