1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7441646

Besoekers aanlyn

Ons het 6 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

OM VIR HOM LEWEND TE WEES!

Romeine 6:1-23

“So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” (:11).

Ek wonder hoeveel mense van Jesus Christus weet, maar nog versuim om Hom waarlik te dien? Daar is soveel mense wat reken dat hulle geloofsbelydenis in Jesus binne paar minute voor ‘n kansel afgehandel word waarna hul met hul eie lewe en planne kan voortgaan. Die ligsinnigheid waarmee hierdie verbintenis aan Jesus Christus voltrek word verskil nie veel van die ligsinnigheid waarmee mense deesdae huweliksbeloftes aan mekaar maak nie. Laasgenoemde siening wek vir ons ‘n beter begrip waarom hierdie verbintenisse in die huidige samelewing so maklik inmekaar tuimel.

Wanneer ‘n persoon homself waarlik bekeer van ‘n sondige lewe tot ‘n lewe in Jesus Christus, is dit geen ligsinnige verbintenis nie. Jy verbind jouself daartoe om getrou aan Hom te lewe vir die res van jou lewe en om aan Hom diensbaar, gehoorsaam en onderdanig te wees. Hy het geen ligte prys betaal om ons van die sondelas te verlos nie en verwag van ons om die juk van diensbaarheid aan die sonde van ons rug af te werp wanneer ons onsself aan Hom verbind.

Daar is soveel mense wat Jesus aan die een kant en die sonde aan die anderkant wil dien. Hierdie is ‘n teken van ‘n baie ongesonde geloofslewe. Dit kom daarop neer dat jy maar net gerusgestel wil word dat Hy naby sal wees om jou te help wanneer jy probleme het, maar dat jy steeds ‘n eiesinnige lewe wil leef waarin jy jou eie besluite sal maak.

Ons lees in Romeine 6 in geen onduidelike taal dat ‘n gelowige kies om diensbaar te wees aan Jesus Christus en terselfdertyd kies om ‘n lewe van sondige begeerlikheid na die wêreldse begeertes af te sterf.   Dit beteken allermins dat ‘n mens na sy bekering heilig en sonder sonde is. Ons dink bv. aan Petrus wat as dissipel van Jesus Hom verloën het en selfs aan die onenighede wat daar tussen Paulus en Bárnabas was. Ons bekering beteken egter dat ons nie sal voortgaan om die verkeerde dinge in ons lewens te koester nie, maar om dit te bestry en af te lê omdat Christus die oorwinning oor die sonde behaal het. Hy wil nie hê dat die sonde oor ons moet heers of skade in ons lewens, of ook ander se lewens, sal veroorsaak nie.

Die bekering na Jesus Christus in hart en siel beteken dat ons met Hom een sal word. Ons moet dus in lewe en strewe ons denke en lewe probeer rig soos wat dit welbehaaglik in Sy oë sal wees. Dit bring dus ‘n ingesteldheid in my lewe dat Jesus Christus as my Verlosser en Koning in die kamer van my hart woon en dat ek Hom moet ken in al my doen en late. Dit beteken dat ek my eie menslike wil (wat neig tot sonde) sal onderwerp aan Sy gesag in my lewe. Ek is veronderstel om myself af te vra wat Hy in elke situasie sou doen en sou besluit waarin ek myself bevind. Hoe sou Jesus Christus optree indien Hy Homself in hierdie posisie sou bevind? Ons kan dalk ook vra, hoe ek sou optree as Jesus Christus op hierdie oomblik fisies langs my teenwoordig was en vir my sigbaar was?

In vers 8 van Romeine 6 lees ons van die vreugde en voorreg van ‘n lewe wat aan Christus diensbaar gestel is. “As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe,” Wanneer ek my lewe van selfsug, eiesinnigheid en sondigheid afgesterf het, slaan ek ‘n nuwe lewenskoers in met Jesus Christus as die Middelpunt daarvan. In nederige ootmoed en gehoorsaamheid aan Hom, word die allergrootste voorreg my gebied om ‘n dienkneg, ja, selfs ‘n kind van die Allerhoogste God van hemel en aarde te word. Ek word bevoorreg om my lewe van sondigheid wat lei na die dood, neer te lê ten einde ‘n nuwe lewe te begin leef as ‘n koningskind, as ‘n kind van God. Dit beteken dat ek myself daaraan sal toewy om die lewe wat ek leef, daagliks vir God leef.

God wil nie hê dat ons maar net ‘n blote bestaan hier op aarde sal voer nie – Hý wil hê dat ons moet leef! Wat meer is, Hy wil hê dat ons onder die beskerming en leiding van Sy geliefde Seun hier op aarde vir Hom lewend moet wees.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie