1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
4348749

Besoekers aanlyn

Ons het 87 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Afrikaner

IS DIE AFRIKANER SE DAE GETEL?

Bybel2 Timótheüs 3:1-9

“mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. ...”

Was die Afrikanervolk nie eens op ‘n tyd ‘n volk wat allerweë beskou is as ‘n Godvresende volk nie? Ons was ‘n volk wat geleef het uit die krag van ons geloof in God Drie-Enig. Ons geloof in God was die dryfkrag agter alles wat ons aangepak het en Sy Woord was die rigtingwyser waarmee ons koers gehou het.

Die Afrikanervolk sal nie die eerste volk wees wat die Woord egter iewers verloor het en op ‘n dwaalweg geraak het nie. Die krag van ons geloof het al swakker begin raak totdat daar maar net ‘n leë dop oorgebly het wat met die kleed van godsdienstigheid oorgetrek is – anders gestel is seker dat die gedaante van godsaligheid standgehou het, maar die krag van die geloof en Godsvrees het verlore gegaan.

Ons lees in hierdie gedeelte van eienskappe wat by mense te bespeur sal wees in die laaste dae.   Dit is vir my skrikwekkend om te sien hoeveel van hierdie eienskappe genestel is in die lewens en karakters van my medemens – my volksgenote. Ons lees in verse 2-4 van hierdie eienskappe wat verdere bespreking verdien.

Mense sal liefhebbers van hulleself wees. Alhoewel die Woord van God dit pertinent stel dat ‘n mens jouself moet liefhê, is hieraan ook perke. Die mens is veronderstel om God bo alles lief te hê en daarnaas moet hy sy naaste en homself ook liefhê. ‘n Mens se liefde vir homself moet egter spruit uit die besef dat jy ‘n unieke skepsel van God is en dat jy jouself liefhet as Sy kosbare eiendom. Jou liefde vir jouself is nie veronderstel om ooit in ‘n verwaandheid te ontaard wat van jou ‘n verdorwe skepsel sal maak nie. Wanneer ons kyk na allerhande giere wat mense beetpak wat strek van persoonlike nommerplate op hul voertuie tot die bohaai wat ‘n persoon kan opskop wanneer sy ego ‘n bietjie gekrenk word in die openbaar, besef ons dat menig mense se selfliefde ongetwyfeld die oorhand oor hul liefde vir God gekry het.

Die ekonomie het weliswaar in ons land al beter gelyk as vandag. Dit is egter hartverskeurend om te sien hoedat mense mekaar sal verorber vir ‘n paar rand – ‘n klinklare bewys dat mense dit dalk sê, maar nie werklik glo dat alle goeie gawes uit God se Hand kom nie. Indien jy laasgenoemde werklik glo, sal jy dit nooit nodig ag om iemand anders te “oorwin” ten einde jou besitting in te palm nie. Inteendeel, jy sal oortuig wees dat God ook vir jou ‘n afgemete erfdeel uitgemeet het en sal vergenoeg wees met dit wat Hy aan jou toevertrou.

Dit is eintlik bejammeringswaardig om te hoor hoedat mense hul eie selfbeeld moet streel deur allerhande stories van die grootste suksesse (wat gewoonlik net in rand en sent gemeet word) te vertel. Dit is seker die gevolg van ‘n geslag wat soek na aanvaarding en hoop dat hul prestasies mense genoeg sal beïndruk om hulle lief te kry en te aanvaar.

Wanneer ons sien tot watter mate die dissipliene in die skole tekort skiet, besef ons dat hierdie kinders ook in hul ouerhuise nie die toonbeeld van gehoorsaamheid is nie. Die blaam word egter op die onderwysers en die regering geplaas dat kinders nie meer gedissiplineer mag word nie.   Dit is mos ‘n al te lekker verskoning waaragter die ouer kan wegkruip om sy eie versuim om sy kind te dissiplineer te verbloem. Min besef ouers watter groot impak hulle op hul kinders se lewens kan maak deur vir hulle ‘n voorbeeld van gehoorsaamheid te stel. Indien kinders kan sien dat hul ouers ook aan God (hul hemelse Vader) gehoorsaam is, sal hulle ook makliker hul ouers gehoorsaam – aangesien die voorbeeld vir hulle versinnebeeld word.

Die aaklige eienskap van ondankbaarheid kleef soos ‘n melaatsheid aan ‘n groot meerderheid van ons mense. Mense soek werk, maar net totdat hulle dit kry. Hulle omhels nie hierdie geleentheid met die grootste dankbaarheid vir uitkoms uit hul ellende nie, maar begin dadelik te kla oor kollega’s die onbillike werksomstandighede, die swak betaling en dies meer. Mense het selfs verleer om dankbaar te wees teenoor God vir dinge soos gesondheid, lewenskrag, die gawes van verstand, ‘n gelukkige gesin, ‘n eie en pragtige moedertaal, die Bybel in ons eie taal en ja, die voorreg om ‘n Bybel van my eie te besit.   Dit is alles dinge wat ons vir geen oomblik verdien nie.

Hierdie ondankbaarheid is natuurlik die gevolg van die propaganda in ons onderbewuste dat al hierdie dinge ons mensereg is en dat ons geregtig is op dit alles en nog meer. Wanneer ek dan my mensereg uitoefen om te gaan studeer, kan ek maar tot watter tyd in die nag in nagklubs rondhang, want ek sal ook kan aandring op goeie punte aan die einde van die jaar, want dit is my reg. Daar is niks om voor hard te werk en dankbaar te wees nie, want ek moet dit mos net vanself kry.

Die bandeloosheid, roekeloosheid en liefde vir genot bo ‘n liefde vir God, is besig om hierdie volk se siel weg te vreet. Daar is vir mense soveel dinge wat hulle moet geniet, want die lewe is dan so kort. As jy jou lewe verkeerd leef, is dit inderdaad onsettend kort, want jy haas na die dood wanneer jy die pad van die lewe verlaat. Wanneer ‘n persoon Maandag tot Donderdag verby wens sodat die naweek met sy pret moet aanbreek en dan Vrydagaand en Saterdag geniet tot so ‘n mate dat jy Sondag moet omslaap om lewe te kry vir die week wat voorlê, is die lewe inderdaad baie kort. Jy het slegs twee dae van lewe uit ‘n volle week van sewe dae. Elke dag is ‘n geskenk uit die Hand van God, maar word dit as sulks aangesien en waardeer?

Mense ag dit nie meer van belang om tyd te maak vir die heilige (gewyde) dag van God nie. Daardie een dag waarin ek rustig moet wees om te dink hoedat Hy dinge in my lewe wil hê. Daardie dag waar ek voor die Allerheiligste en Alwetende kan ondersoek instel of my lewe nog op die regte koers is – of ek darem nog besig is om ‘n godvrugtige lewe in Jesus Christus te leef en of ek ook maar net oorklee is met ‘n lagie van godsaligheid terwyl ek die krag van die geloof verloën het. Dit is darem te veel gevra om ‘n dag hiervoor af te staan, veral wanneer ek Saterdag so voluit geleef het dat ek niks lewenslus en krag oorhet vir die volgende dag nie.

Wanneer ons die Afrikanervolk in die breë se lewenstyl langs hierdie onfeilbare maatstaf van die Woord neerlê, besef ons dalk met ‘n skok dat die dae van só ‘n volk miskien getel is? Laasgenoemde is dalk die rede waarom daar so ‘n groot kloof in ons volk se geledere ontstaan wat daagliks al groter word, aangesien diegene wat hierdie dreigende onheil sien aankom, hulle afskei van diesulkes teen wie gewaarsku word in die gelese gedeelte.

Dit is belangrik dat ons as Godvresende volksgenote sal besef dat die oordeel ons nie toekom nie en die dag van die oordeel ook nie vir ons bekend is nie. Dit is egter duidelik dat die tekens van die tye nie misgekyk kan word nie en die verantwoordelikheid rus op ons om ‘n lewe te leef wat ‘n goeie drag Godsvrug sal oplewer, want wanneer die Landbouer kom ondersoek instel na Sy wingerd en dit lewer nie oorvloedig vrug op nie, sal dit dalk uitgeruk word om te verdroog en te vergaan.

Ons ken Hom egter nie as ‘n onbillike Meester nie en sou daar dalk ‘n paar lote wees wat belowend vrug oplewer, kan Hy dalk besluit om nie die wingerd geheel en al uit te ruk nie, maar net met ‘n deeglike snoei suiwering te bring om hierdie wingerd op die proef te stel of dit nie in die komende seisoen dalk ‘n groter opbrengs sal lewer nie?

 s1

 d1

 sw1

 v1

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie