In die Evangelie volgens Johannes (Hoofstuk 8) vind ons ‘n gesprek tussen Jesus en die Fariseërs. Hierdie gesprek werp lig op die Goddelikheid van Jesus; iets wat nie net die Fariseërs destyds ontken het nie, maar ook die ongelowiges van vandag.
Jesus het ter aanvang gestel dat Hy die lig van die wêreld is. Die Fariseërs wou Hom met ‘n regsargument begroet synde dit nie toelaatbaar was in daardie tyd om van of oor jouself te getuig nie. Sy antwoord daarop, wat sy Goddelikheid beaam, naamlik dat al sou Hy van Homself getuig, dit die waarheid is, wou (of kon) hulle nie verstaan nie. Hy was immers die Seun van God. Die Fariseërs het ‘n messias verwag wat hulle aanspraak (op uitverkorenheid) sou bevestig en nie Een wat hulle sou veroordeel nie.
Die skynbaar onskuldige vraag wat die Fariseërs aan Jesus vra, naamlik: “Waar is u Vader?”, is allermins bedoel gewees om ‘n onskuldige vraag te wees, maar eerder ‘n beskuldiging. Toe, soos nou, beweer ongelowiges dat Jesus buite die eg verwek is. Sommige wil dit selfs hê dat dit was as gevolg van verkragting en andere dat hy die kind was van ‘n Romeinse soldaat. Jesus se antwoord op hierdie vraag het vir die ongelowiges van daardie tyd groter vyandigheid, eerder as bevryding gebring deurdat Hy hulle onkunde en dus hulle ongeloof verder aan die kaak sou stel. Tog was daar diegene wat in Hom geglo het; selfs in daardie vyandige omstandighede.
Maar Jesus het geweet dat hierdie geloof maar oppervlakkig was. Daarom moedig Hy hulle aan om na die waarheid te soek, omdat dit hulle sal vrymaak. Net hierdie opmerking van Jesus ontketen ‘n verdere verontwaardige reaksie. Die Jode beweer dat hulle niemand se slawe is nie, dog openbaar hulle deur hulle optrede verslawing aan hulle ongeloof! In hulle selverheffende trots en hoogmoed op hulle biologiese afstamming moes niemand durf waag om aan hulle te stel dat hulle slawe was nie. Hy was daar om hulle vry te maak, maar hulle, (begeester en gevangene geneem deur hulle geestelike vader, die duiwel), wou niks hiervan hoor nie. Hulle het vir hulleself die alleenreg opgeeïs van die beloftes van Abraham.
Waar hierdie Jode aanvanklik eers wat Jesus gesê het, bloot wou betwis, verander die trant van hulle redevoering in ‘n insinuasie oor sy Vaderskap. Om in daardie tyd ‘n persoon se vaderskap te betwis was een van ergste beledigings wat iemand toegesnou kon word. Dit het immers buite-egtelikheid veronderstel. Hoe subtiel ookal, was dit ‘n aanklag komende van ongelowiges. In Jesus se antwoord het hulle nie belang gestel nie. Want Sy boodskap was nie die boodskap wat hulle wou hoor nie. Indien die duiwel jou vader is, is daar immers geen waarheid in jou nie.
Dat Jesus toe boonop verklaar het dat Hy die Seun van God is, was vir die ongelowige Fariseërs die spreekwoordelike laaste strooi. Omdat hulle die argument verloor het, was daar vir hulle net een uitweg, en dit was geweld. Hulle tel klippe op om Hom te gooi!
Vandag is daar weer die nieu-Fariseërs in ons midde wat Jesus se Vaderskap in twyfel trek. Hulle is ook “skifgeleerd” soos destyds. Hulle gebruik ook allerlei “wetenskaplike” argumente (waar dit hulle pas). Hulle kan nie bely dat Jesus deur die Heilige Gees verwek is en gebore is uit die maagd Maria nie. Tog gaan hulle onverpoosd voort binne die kerk om die geloof van lidmate en veral kinders te ondermyn. Hulle is besig met kettery, maar die kerk doen niks. Besef die kerk dat hy daardeur mede-pligtig aan hierdie laster word?
Hierdie ongelowiges het, of hulle dit besef of nie, die duiwel as vader. As iemand beweer dat Jesus nie die eniggebore Seun van God is nie, kan hy ook nie glo dat hierdie Seun uit die dood opgestaan het, opgevaar het na die Hemel en sit aan die regterhand van God nie. Is dit nie maar presies wat die Talmoed beweer nie?
Geloof kan alleen ‘n vaste vertroue word as die sondaarmens hom onderwerp aan die gesag van God soos geopenbaar in sy Woord. Wanneer dit gebeur, sal elke mens hom skaam oor sy laster en sy leuens.