WAAROM DIE VUVUZELA?

Lees ook artikel  “OOK BEESTE GAAN IN SOKKERSTADIONS BRUL” – GEEN CHRISTEN MAG IETS MET DIE 2010-TOERNOOI TE DOEN HÊ NIE

Anita Joubert

Die sokkerorganiseerders het ‘n spesiale “Vuvuzela Moment” aangekondig vir die 9e Junie 2010 om 12h00, twee dae voordat die Wêreld Sokkerbeker ‘n aanvang neem. Almal in Suid Afrika moet glo vanaf 12h00 tot 12h05 hulle Vuvuzelas blaas sodat die wêreld kan opstaan en kennis neem van Suid Afrika se eie “erfenis en trots,” ‘n erfenis van voorvadergeeste en afgodsaanbidding.

Wat is die oorsprong van die Vuvuzela? Die woord kom van ‘n Zoeloewoord wat  beteken om ‘n geraas te maak. Daar is oorspronklik van ‘n koedoe se horing gebruik gemaak en dit is gebruik om ‘n  gemeenskap byeen  te roep om hul godsdienstige rituele uit te voer. Om praktiese redes is dit later van plastiek vervaardig en dit het vanaf ongeveer 1990 gewild geraak by sokkerwedstryde. Volgens ‘n ou Afrika legende kan ‘n bobbejaan doodgemaak word deur ‘n groot geraas en daarom word die Vuvuzela in die laaste kwart van die wedstryd geblaas om die opponent “dood te maak”. Klink nogal baie na Swart Magie, nie waar nie?

Daar word gesê dat die horing ook tydens oorloë in Afrika gebruik is en vandag nog steeds gebruik word om feesvieringe te kenmerk.

Baie van die  sokkerlande, FIFA ingesluit, het hard probeer om die Vuvuzela verban te kry tydens die Sokker Wêreldbeker 2010. Daar is egter net aangevoer dat dit ‘n belangrike deel van SA se sokkerkultuur is en daarom nie debatteer is nie.

Navorsers en sielkundiges sê dat die geraas van die horing 120 desibels oorskry. Die intensiteit daarvan kan rasende woede by mense veroorsaak, nie net omdat dit so hard is nie, maar ook as gevolg van die vals toonhoogte van die klank wat ‘n mens se sintuie irriteer. Dit kan selfs gehoorverlies veroorsaak wanneer dit naby ‘n persoon se oor geblaas word.

Dwarsdeur Afrika en by meeste kulture waar daar tydens afgodsrituele in geesbeswyming gegaan word, word van ontsettende harde musiek gebruik gemaak. So ‘n geesbeswyming kom soms voor asof die persoon bewusteloos is, maar kan ook uitbars in ‘n onbeheerbare histerie en woede, ‘n baie gevaarlike gebeurtenis in ‘n sokkerstadium met honderde duisende mense.

Die Israeliete moes, in opdrag van die Here,  ‘n ramshoring blaas. In Eksodus 19:16 lees ons dat dit ‘n sterk, helder klank gehad het. Dit is telkemale gedoen om die volk tot verootmoediging en aanbidding op te roep en om God se heerskappy te verklaar.

Laat ons as Christusgelowiges dus eerder op 9 Junie om 12h00 op ons knieë gaan en bid tot ons almagtige en genadige God en Hom smeek om ons land te genees eerder as om te deel aan ‘n afgodsritueel.